Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Talle groepe wil optree teen waterwet
Dr. Jaco Deacon

Nadat die suide van Bloemfontein weer verlede week met min of geen water gesit het nadat Bloemwater die water weens wanbetaling deur drie munisipaliteite, waaronder die Mangaung-metro, verminder het, wil verskeie instansies nou stappe doen om sulke optrede te keer.

Verskeie instansies wat inwoners verteenwoordig, wil nou met ’n regsgeding begin om te verhoed dat staatsinstellings art. 4 (5) van die Waterdienstewet van 108 van 1997 as kredietbeheermeganisme gebruik om mekaar se water af te sny en inwoners pionne in gevegte maak.

So sê Kobus Olivier, voorsitter, en Jacques Meiring, bestuurder van die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA), en hul regsverteenwoordiger, Andries Vermeulen van Bezuidenhouts Prokureurs, wat aan die stuur hiervan staan.

“Dit is sodat een staatsinstelling nie die reg moet hê om ’n ander staatsinstelling of semi-staatsinstelling of -entiteit se water in te kort of af te sny nie waar inwoners as pionne elke keer sentraal in gevegte geplaas word en die lydende party word wanneer hul huishoudings en sakeondernemings sonder water gelaat word, terwyl hulle waterrekenings betaal het.”

Ander instansies wat hulle reeds by die inisiatief gevoeg het, is Trots Pellissier, Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), die Gariepdam-dorp se hotelle soos die Bunker Hills Investments 250 (Pty) Ltd., De Stijl Gariep Hotel CC, Stonebridge Trading 15 (Pty) Ltd. en Forever Resorts (Pty) Ltd. Gariep, sê Olivier en Meiring.

Bejaardes en siekes het in Bloemfontein begin ly toe Bloemwater die dele van die Mangaung-metro wat deur Bloemwater van water voorsien word, se water­lewering verminder het weens skuld van meer as R1 miljard van die metro waarby die dispuut­bedrag ingesluit is.

Olivier en Meiring sê water­infrastruktuur word beskadig, inwoners se geisers kry skade, en skade word berokken vir versekeringsmaatskappye wat toenemend eise moet uitbetaal as water heeltyd afgesny of ingekort word.

Inwoners betaal hul rekenings, maar die geld word nie deur munisipaliteite aan die waterrade soos Bloemwater oorbetaal nie.

Olivier en Meiring meen dat Mangaung onbevoeg is om geldelike verantwoordelikheid te neem vir die betaling van sy waterrekening by Bloemwater ondanks die feit dat hy water vir baie meer verkoop as waarvoor dit aangekoop word.

Bloemwater verkoop water vir ’n bietjie meer as R9 per kiloliter aan Mangaung en Mangaung verkoop die water vir meer as R24 per kiloliter aan die verbruikers.

Prof. Danie Brand van die Vrystaatse Sentrum vir Menseregte by die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê hy is ook die advokaat in die saak.

“Mense se grondwetlike regte word op twee wyses aangetas as hulle water afgesny of ingekort word. In die eerste geval sê Bloemwater dat hul waterlewering na 30% verminder wat ’n waterdrukprobleem veroorsaak wat op sy beurt daartoe lei dat mense van hoërliggende dele geen water kry nie.

“Hierdeur word mense se grondwetlike reg om toegang tot water te hê soos wat art. 27 van die Grondwet voorskryf, aangetas. Dit is duidelik ’n skending van menseregte wat nie regverdigbaar is nie.

“In die tweede geval waar Bloemwater kan aanvoer dat hy in uitsonderlike gevalle die reg moet hê om munisipaliteite se waterlewering te verminder of te stop om hulle te dwing om te betaal, moes die eindverbruiker wat inwoners, skole of hospitale is, minstens kennis gekry het van die voorneme om water af te sny sodat hulle hulself kon voorberei.

“Hulle moes ook die kans gekry het om voorleggings in te dien om die afsny te verhoed wat inwoners se tweede grondwetlike reg is, wat hier ter sprake kom.

“Mense moet billik behandel word en het ’n reg op administratiewe geregtigheid.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, sê hulle ondersteun die saak heelhartig. “Skole en veral skoolkoshuise ly dikwels as water afgesny word. Skole het reeds ’n baie ontwrigtende jaar gehad en die laaste ding wat nou moet gebeur, is ’n tekort aan water by skole wanneer kinders eksamen moet skryf.”

  • Olivier en Meiring sê: “Ons wil vra dat art. 4 (5) van die Waterdienstewet geskrap of aangepas word en wil ’n interdik kry om te verhoed dat dit gebruik word om mense se water in te kort voordat die grondwetlikheid van art. 4 (5) nie in die hof getoets is nie.” Enige ander entiteite wat by die regsgeding wil aansluit, kan Meiring kontak by sy e-posadres: fwafna@gmail.com.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.