Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tjokkers wys hul slag in toneel

Is jou klein rakker die volgende Charlize Theron, Trevor Noah, Arnold Vosloo, Tinarie van Wyk-Loots of Christo Davids?

Toon jou laerskoolkind potensiaal as ’n opkomende akteur of aktrise?

Dan is ATKV-Tjokkertoneel nét die plek om sy of haar talente as deel van ’n toneelgeselskap te ontgin.

Tot onlangs was ATKV-Tienertoneel eksklusief vir hoërskoolleerlinge, maar met die splinternuwe ATKV-Tjokkertoneel gaan laerskoolkinders ook nou die planke warm speel.

“Die behoefte vir ’n toneelprojek vir laerskole is al ’n paar jaar duidelik uit navrae,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder by die ATKV.

“Daar is heelwat kunstefeeste en ’n paar toneelfeeste wat laerskooltoneel op ’n manier akkommodeer, maar ATKV-Tjokkertoneel sal ’n nasionale platform vir talentontwikkeling wees, gefokus op beginsels soos toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan literatuur.”

Volgens haar is daar ’n behoefte vir ’n gestandaardiseerde, geakkrediteerde, betroubare kompetisie en die ATKV kan met sy baie jare se ondervinding as betrokkene in die gemeenskap hierdie rol vertolk.

“Ons wil ouers help om hul kinders te help; ons wil kinders spesiaal laat voel en hul talente ontgin.

“Die ATKV wil kinders blootstel aan uiteenlopende genres, goeie speltegnieke, goeie afrigting en nuttige wenke.”

Basson sê ook dat daar natuurlik ’n verskil tussen ATKV-Tienertoneel en die Tjokkertoneel sal wees.

“Die groot verskil is dat Tjokkertoneel nie noodwendig sulke uitdagende en sensitiewe inhoud sal bevat nie.

“Eerder (byvoorbeeld) kinderboeke wat verwerk is vir die verhoog en gedigte vir spreekkore, sodat die basis van storievertel en spel­tegniek deur die kinders aangeleer kan word.

Laerskole kan hul junior spreekkoor (gr. 1 tot gr. 3), senior spreekkoor (gr. 4 tot gr. 7) en ’n minitoneel inskryf vir deelname aan hierdie nuwe projek van die ATKV in sy eerste jaar.

“Ons beoog om Tjokkertoneel kindervriendelik aan te bied met ’n fokus op die viering van kinders en die uitleef van hul talente en belangstellings,” sê sy.

Die streekfees vind op 4 en 5 Oktober by die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein plaas.

Bel Basson by 011-919-9078 of stuur ’n e-pos na lizaneb@atkv.org.za vir meer inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.