Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verken Bloem se skatkis voel boeke

Daar is waarskynlik net een ding op aarde waaroor ’n mens meer liries kan raak as die reuk van ’n nuwe seisoen, en dit is die reuk van boeke.

En oor die reuk van boeke kan ek beswaarlik iets sê wat nie reeds deur duisende ander boek- liefhebbers gesê is nie.

Maar min dinge kom darem maar by daardie reuk as jy ’n boek oopslaan. Dit is die reuk van papier en drukkersink, ja, maar dit is iets méér ook.

Vir boekwurms is dit die reuk van jou eie realiteit wat verdof; die reuk van avonture en ander wêrelde wat deur iemand anders geskep is, maar wat jóúne word die oomblik as ’n boek jou behoorlik insluk.

Vandeesweek is Nasionale Boekeweek, en as boekestad het Bloemfontein baie om op trots te wees. In die internasionale boekewêreld is Bloem natuurlik bekend as die geboorteplek van die skrywer J.R.R. Tolkien. Hoewel jy ongelukkig nie veel van die hobbits se Middel-Aarde hier sal vind nie, het ek in die meer as 20 jaar wat ek reeds in Bloem bly, mettertyd ’n hele paar van die stad se boekbakens leer ken.

Trouens, toe ek nog ’n skoollaaitie op ’n klein Karoodorpie was, was Bloemfontein vir my reeds sinoniem met skrywers en boeke, omdat ek elke jaar aan die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfwedstryd deelgeneem het. Dié skryfwedstryd was oor die jare al baie aspirantskrywers se eerste tree na ’n volwaardige skryfloopbaan.

O, en nog voor ek in Bloem kom nesskop het, het ek natuurlik reeds geweet van Naval Hill se reputasie as vryplek, danksy Maretha Maartens se destyds opspraakwekkende jeugroman ’n Pot vol winter!

In my studentejare was die Universiteit van die Vrystaat se imposante biblioteek en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum (Naln) ’n groot deel van my opvoeding. By Naln het ek mense soos Leana Lategan, Annelien Diedericks en wyle Otto Liebenberg ontmoet, boekemense in murg en been, wat ’n skatkis van staaltjies oor skrywers en boeke kon deel.

Elke keer as ek deur Langenhovenpark ry, roep die straatname skrywers op met wie se boeke ek in een of ander stadium kennis gemaak het. Dis ’n jammerte dat soveel van die stad se boekwinkels oor die jare in die slag gebly het – Fascination Books in die Mimosa-winkelsentrum waar skrywers van oor die land heen gereeld hul nuwe boeke kom bekend stel het; die skemer, stowwerige tweedehandsboekwinkel wat langs ’n Chinese eetplek daar naby die Klipkerk was, met ’n skatkis van boeke tot byna teen die plafon gestapel; en die wonderlike tweedehandseboekwinkel in die Fleurdal-sentrum wat onlangs sy deure gesluit het.

Gelukkig spog die stad darem steeds met ’n paar boekhandelaars waar boekwurms hul stapel- voedsel kan gaan soek. In Bloemfontein het ek plaaslike skrywers soos Maretha Maartens, J.C. Steyn, Berna Ackerman en Irma Joubert ontmoet, wie se boeke ek op skool of universiteit reeds gelees het. Ander, soos Fanie Viljoen en wyle Christa Jonker-Jordaan, het vriende geword. Ek het selfs ’n paar keer die voorreg gehad om by ’n supermark in wyle Karel Schoeman se inkopiemandjie te loer, hoewel ek veels te skaam was om ’n geselsie aan te knoop. Deesdae is die stad ook die tuiste van skrywers soos Francois Smith, Henning Pieterse, Louis Bothma, Madré Marais en Annerle Barnard.

Bloem het voorwaar ’n trotse boekegeskiedenis.

Laat Nasionale Boekeweek jou inspireer om weer ’n bietjie ons stad se boekerfenis te waardeer. Gaan maak gerus nog dié week ’n draai in jou plaaslike boekwinkel, en ondersteun dié bedryf wat baie swaar deur die Covid-pandemie getref is.

Dis immers ’n geleentheid om twee van die wonderlikste reuke op aarde te kan beleef – die reuk van ’n nuwe seisoen én die reuk van ’n boek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.