Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Volkspele leef voort

Die Van Riebeeck-volkspelelaer in die stad het Woensdag 27 Februarie, ’n dag voor die 105de herdenking van die ontstaan van volkspele, dié geleentheid feestelik gevier.

Tydens ’n geselligheid in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) het die voorsitter van die laer, Mike Jacobs, ’n kopie van die boek Ons Volkspele-Erfenis se tweede druk aan Annelien Diedericks van Naln oorhandig.

Die boek met 127 volkspele-liedjies is in 2014 met die eeufeesvieringe van die beweging gepubliseer en ’n herdruk het pas verskyn.

Jacobs het vertel hoe volkspele ontstaan het nadat dr. Samuel Pellissier, ’n onderwyser van Boshof, in 1912 met ’n beurs na Europa gereis het waar hy Nederland, Duitsland en Swede besoek het.

Hier het hy gesien hoe Europese jong mense volksdanse in tradisionele drag doen en het hy besluit om die liedjies in Afrikaans te verwerk en só ’n eiesoortige Afrikaanse kultuurbeweging te vestig.

Die eerste volkspele-byeenkoms het tydens ’n Sondagskoolpiekniek op die plaas Vuisfontein in die Boshof-distrik op 28 Februarie 1914 plaasgevind.

Hy verduidelik die term volkspele is juis gebruik omdat dans in daardie tyd deur die kerk as sondig beskou is en daar eerder na dié danse as speletjies verwys het. Tydens ’n vertoning by die sinode in 1940 het Volkspele die kerk se goedkeuring weggedra.

Die Van Riebeeck-volkspelelaer bestaan uit 41 geregistreerde lede en op Woensdae wanneer hulle by die Laerskool Sentraal saamtrek, is daar volgens Jacobs gewoonlik sowat tien tot 12 pare.

Hy vertel lede gaan gereeld op uitstappies en woon ook nasionale saamtrekke by. In 2012 het van die lede saam met hoërskoolleerlinge na van die stamlande in Europa getoer. Daar word gehoop dat ’n toer na Spanje later vanjaar ’n werklikheid gaan word.

Spesiaal vir die feesvieringe het lede van die laer kleurvolle tradisionele klere aangetrek – mans met geborduurde baadjies en vroue met wye rokke en handskoene.

Hettie Fourie, ’n jarelange lid van die laer wat haar man, Pieter, meer as 40 jaar gelede op ’n volkspelekamp in Warmbad ontmoet het, verduidelik die blomme en plante op die mans se onderbaadjies is inheemse plante.

Sy sê haar kinders het met volkspele grootgeword en een van hul kinders, Andries, het saam met hulle die fees by Naln bygewoon.

Ná die formele geselligheid het almal pannekoek geëet voordat die lede van die laer ’n demonstrasie in die vierkant by Naln gelewer het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.