Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vriende baklei vir bewarea

Die Vriende van die Sewe Damme-bewarea in Bloemfontein wil alles probeer om die Mangaung-metro te oortuig om nie ’n deel van die bewarea te verkoop nie.

As die besluit wat op die raadsvergadering van 31 Januarie geneem is, nie herroep word nie, herroep nie, sal dié vereniging hom tot die hof wend om ’n interdik te bekom om die verkoop van die grond vir ontwikkelingsdoeleindes te keer.

Dít is die stappe wat die vereniging Donderdag (07/03) op ’n openbare protesvergadering aangekondig het. Meer as 300 inwoners het die vergadering in die NG kerk Heuwelsig bygewoon.

Olly Mlamleli, die uitvoerende burgemeester, en adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder, asook die metro se departementshoofde van die afdelings vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling, is na die vergadering genooi. Nie een van die amptenare het opgedaag of verskoning aangebiednie.

Adv. Jo Hiemstra, voorsitter van die vereniging, het op die vergadering gesê die gemeenskap se ondersteuning vir die kwessie is bemoedigend. Teen Dinsdag (12/03) het 3 020 mense al Angie Vorster se versoekskrif op die webwerf vuma.earth onderteken. Daarin word gevra dat die natuur bewaar moet word. Die dele ter sprake is gedeeltes 3, 11 en 12 van die plaas Bayswater 2865 van ongeveer 18 ha.

Hiemstra sê in die beskrywing wat voor die raad gedien het, is dié gedeelte nie behoorlik geïdentifiseer nie. Die metro het verlede jaar op 12 Maart ’n waardasie laat doen van drie aangrensende dele wat ’n halfmaan binne die groen strook vorm. Die groen strook strek tot by die deel wat die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin, en sluit ekologies sensitiewe gebiede in. Die bewarea beslaan dele 10, 11, 12 en 3 van die plaas Bayswater en is net meer as 86 ha.

Hiemstra sê die bewarea, wat in 1994 by die departement van omgewingsake geregistreer is, het aanvanklik 112 ha beslaan. Die vereniging bestuur die bewarea die afgelope 26 jaar namens die metro.

Volgens Hiemstra het die metro nie die vereniging geken in die besluit of met hom in gesprek getree voordat die besluit geneem is om die grond te verkoop nie. Hy sê die raad ignoreer sy eie beleid deur dele van ’n “geproklameerde bewarea” te verkoop.

Ingevolge die voorstel wat voor die raad gedien het, kan die grond verkoop word omdat dié grond “nie vir verdere gebruik benodig word nie”.

Hiemstra sê dit is onwaar omdat inwoners die bewarea vir ontspanningsdoeleindes gebruik, en talle wedlope en fietswedrenne hier aangebied word.

Hy sê die metro besit groot gedeeltes onontwikkelde grond.

“Waarom wil hulle dele van ’n bewarea aan private ontwikkelaars verkoop?”

Ingevolge die voorstel is dit nie nodig om ’n openbare deelnameproses te volg nie omdat die waarde van die grond ter sprake nie R50 miljoen oorskry nie.

In sy toespraak op die vergadering op 31 Januarie het die DA-raadslid Rossouw Botes gesê die waarde van die grond, wat op R7,9 miljoen vir 17,53 ha bereken is, lyk nie markverwant nie.

“Ons baklei vir een van die mooiste dele tot by die damme wat soms leeg is, maar elke jaar na die reën oorloop,” het Hiemstra op die vergadering gesê. Verder sê hy daar is al 119 verskillende voëlsoorte in die gebied aangeteken, selfs meer as in die nabygeleë Botaniese Tuin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.