Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vroue omarm meisies

“Ons is Jesus se hande op aarde.” Met hierdie gesindheid het Mariska Robberts en haar vriendin Youla Mörsner Saterdag (08/09) ’n partytjie vir die meisies van die Therapéa-huis in Fichardtpark aangebied.

By dié huis word 18 meisies met ouderdomme van 20 maande tot 16 jaar by die kinder- en jeugsorgsentrum van die Volle Evangelie-kerk gehuisves.

Mariska, wie se dogtertjie ses jaar gelede in ’n motorongeluk oorlede is, sê sy glo almal het ’n omgee-kamer in hul harte, en haar omgee-kamer is beslis vir kinders.

Sy sê die Here het dit op haar hart gedruk om vir kinders op ’n besonderse manier om te gee.

Mariksa en Youla het vir dr. Belinda van der Vlies – huisbestuurder van dié kinderhuis – by kunsklasse ontmoet.

Hulle het eendag gaan koffie drink en besluit om ’n spesiale oggendgeleentheid aan te bied waarop dié meisies trakteer kan word.

Mariska en Youla het aan almal wat hulle ken, boodskappe oor die spesiale geleentheid gestuur en uiteindelik het sowat 120 vroue bygedra om toiletware, toiletsakkies, handdoeke en ander artikels aan die meisies te skenk.

Die groep het ook R11 000 ingesamel wat by die huis, wat geen staatsubsidie ontvang nie, aangewend kan word.

Anri Powell, besturende direkteur van Ace Models Suid-Afrika, was die gasspreker wat met die meisies en die gaste gesels het oor die wapenrusting van God en hoe dit aansluit by persoonlike higiëne en die geskenke wat die meisies ontvang het.

Mariska sê sy is dankbaar vir almal wat bygedra het en sy kan getuig dat die Here die kinders van Therapéa geseën het met oorvloed tydens dié geleentheid.

Belinda sê hulle wil graag in die toekoms ’n huis vir seuns open en nog een van hul drome is ’n nasorgsentrum vir mense 18 jaar en ouer.

By dié sentrum wil hulle graag aan jongmense wat klaar is met skool en begin werk of studeer, ’n tuiste skep totdat hulle self ’n plekkie van hul eie kan bekostig.

Therapéa bestaan al die afgelope vyf jaar en het twee huismoeders wat na die meisies, wat om verskeie redes uit hul ouerhuise verwyder is, omsien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.