Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vroue uit verlede vereer

“Daar is talle invloedryke vroue wat nie die erkenning kry wat hulle verdien nie.”

So het Sharon Snell, die direkteur van die Nasionale Museum, op ’n spesiale geselligheid wat Vrydag (30/08) aan­gebied is om merkwaardige vroue uit Bloemfontein se verlede te eer, gesê.

Sy sê daar is nog heelwat gesprekke en navorsing nodig om vroue die erkenning te gee wat hulle verdien.

As deel van die museum se vrouemaandvieringe word die lewe van talle vroue gevier.

Mariaan Botes, geskiedkundige aan die Nasionale Museum, sê ’n mens moet verstaan dat vroue ’n unieke rol gespeel het in die geskiedenis van Bloemfontein.

“Die rol van vroue was in die vorige twee eeue grootliks beperk tot die omgewing waar hulle gewoon het.”

Sy sê die historiese feite oor talle vroue is beperk, maar daar is nogtans vroue wat ’n groot bydrae gemaak het om die omgewing waarin hulle gewoon het te verbeter.

Dit sluit in Rachel Thoka (1825-1940), wat in Wes-Afrika gebore is en met die Groot Trek as slaaf saam met die Griesel-familie getrek het. Sy het later vir Paul Kruger se familie gewerk voordat sy in Bloemfontein by die Krause-familie gewerk het. Sy was ’n gemeenskapsleier en het in 1913 ’n protesoptrede van vroue van Waaihoek gelei om teen die destydse paswette te betoog. Sy het 115 jaar oud geword en is in 2005 postuum vereer met die Wes-Kaapse Orde van die Disa.

Constance Tshabalala is in 1961 in Bloemfontein gebore en was die enigste een op die museum se lys van vroue wat die dag bygewoon het en haar verhaal vertel het. Tot vandag toe nog beywer sy haar vir die vryheid van armoede en werkloosheid, en om geleenthede vir mense te skep.

Nog merkwaardige vroue wat vereer is, sluit in Tibbie Visser, vrou van oudpres. M.T. Steyn, wat die eerste voorsitter van die OVV (vandag Vrystaat-Versorging in Aksie) in 1907 was. Tibby Visser se jongste dogter, Gladys Steyn, was slegs die tweede vrou wat haar in Suid-Afrika in die regte gekwalifiseer het. Sy was die eerste vrou wat tot die Vrystaatse Balie toegelaat is.

Jackie Steyn, wat getroud is met adv. Colin Steyn, het die Steyn-familie op die geselligheid verteenwoordig.

Clive Solomon, bekende inwoner van Heidedal, het sy ouma Amy Barlow verteenwoordig. Amy (gebore in 1891) was getroud met Tommy Barlow – in 1949 volgens amptelike statistiek die enigste Indiese inwoner van Bloemfontein.

Derek de Bruyn, geskiedkundige aan die Nasionale Museum, sê Amy het ’n reuse-bydrae gemaak om die geskiedenis van Heidedal te help bewaar.

Nog een van Heidedal se geliefde inwoners, Dolores Maritz, kon nie die oggend bywoon nie. Sy is bekend vir haar liefdadigheidswerk en haar betrokkenheid by Age-in-Action, wat bejaarde inwoners besig hou met handwerk en ander gemeenskapswerk.

Saam met die gesprek oor merkwaardige vroue, is kuns- werke deur vroue-kunstenaars wat deel is van die Suid-Afrikaanse Kunsbank, uitgestal. Nonto Msomi van die kunsbank sê die kuns­werke is gedurende Augustus saam met die verhale van uitsonderlike Bloemfonteinse vroue in die museum uitgestal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.