Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrywilligers verlig las

Wil jy help om ’n verskil te maak in die lewe van Bloemfontein se arm en weerlose mense?

Die Torings van Hoop-leierskapstigting, wat hom oor die haweloses, armes en straatvroue ontferm, en met die Woord na hulle uitreik, het dringend vrywillige helpers nodig.

Die voorsitter, Kiepie Jaftha, het op die jaarvergadering op 19 April ’n beroep op inwoners gedoen om hul gewig agter die stigting en sy liefdeswerk te gooi. Besturende direkteur De la Harpe le Roux het gesê met die groot werklas en talle uitdagings vir hom en die klein personeel, wou hy in die afgelope tyd dikwels die handdoek ingooi.

“Die Here wil dit egter nie hê nie.”

Twee van Torings van Hoop se staatmaker-vrywilligers, Farirai Zinatsa en Heila Oelofse, is op die jaarvergadering vir hul onbaatsugtige diens vereer. Zinatsa, wat ’n meestersgraad in ontwikkelingshulp het, het die Delia Jaftha-trofee vir haar toewyding ontvang.

Le Roux sê Zinatsa het uit haar eie uit en stil-stil opgedaag en by die sopkombuis ingeval en is deesdae nou betrokke by die stigting se uitreikprojekte.

“Sy skil groente vir die sopkombuis, kook Sondae vir die ete ná die erediens, help Woensdagaande by die geselskapgroep vir ouer, arm mense en werk by die klerebank. Sy is ’n pragtige, warm mens wat die ekstra myl stap vir ander sonder enige vergoeding.”

Die 80-jarige Oelofse, wat nog twee keer per week ligatennis speel en al 11 jaar by die Tweetoringkerk werk, het die Vriende van Torings van Hoop se eerbewys ontvang.

Sy is eintlik vir drie halfdae in die week die skriba van dié kerk waar eredienste gehou word vir die armes, haweloses en lidmate wat hulle hier tuis voel. Sy doen egter veel meer as net haar skribawerk en is altyd bereid om te help waar Torings van Hoop haar nodig het, sê Le Roux.

“Ek steun swaar op haar en is baie dankbaar vir haar onbaatsugtige werk.”

Torings van Hoop gee daagliks vir sowat 50 mense by sy sopkombuis kos. In die afgelope boekjaar het hy klere en komberse aan sowat ’n duisend mense verskaf.

Hy het in die boekjaar sy uitreikprojek na prostitute uitgebrei deur hande te vat met die nie-regeringsorganisasie North Star Alliance, wat spesifiek op die mediese behoeftes van hierdie vroue fokus.

Dié stigting skop sy nuwe boekjaar op ’n hoogtepunt af. Hy het van vandeesmaand ’n operasionele bestuurder om te help met al die werk en uitdagings: Rebecca de Wit, wat vir vyf jaar die operasionele koördineerder van die Elanja-kinderinisiatief was.

“Ek is baie positief en opgewonde en sien baie uit. Ek sien hoop vir Torings van Hoop en sy uitreikwerk,” sê De Wit.

  • Bloemfonteiners wat wil help by die sopkombuis, klerebank of met uitreikprojekte na die armes en prostitute kan vir Le Roux ’n e-pos stuur na dlh@towersofhope.org of vir hom whatsapp by 083-232-1051.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.