Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vuurwerk skok weer

Al was daar rondom middernag op Oujaarsaand minder vuurwerk oor Bloemfontein, is 30 honde meer as verlede jaar na die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging geneem.

Reinet Meyer, hoofinspekteur van die DBV in die stad, sê 96 honde het by hulle beland wat meestal weens skok van die harde klank van klappers uit hul huise gevlug het.

Sy sê talle diere is tydens die vuurwerk beseer soos ’n Stafford­shire Terriër wat dwarsdeur ’n skuifdeur gehardloop het en nog ’n hond wat sy kakebeen gebreek het toe hy deur die palissadeheining van ’n huis probeer kom het.

Meyer sê daar is die afgelope dae ná 1 Januarie nóg verdwaalde diere na die DBV gebring wat tydelik gehuisves word in die hoop dat hulle die eienaars sal opspoor.

’n Ander groot tragedie van die onwettige vuurwerk wat talle inwoners steeds afskiet, is die aantal voëls wat weens skok of beserings oor die stad heen sterf.

Meyer sê verlede jaar het die vuurwerk tot byna 03:00 geduur en hoewel dit vanjaar net sowat ’n halfuur geduur het, het selfs nog meer diere gely.

In sommige woonbuurte in die suide het die vuurwerk egter langer aangehou.

Sy sê die meeste eienaars het wel al hul diere by die DBV kom haal, maar daar is nog enkele honde wat deur eienaars afgehaal moet word.

“Die beste is om te kom kyk of jou hond hier by ons is,” sê Meyer.

“Die een Jack Russel lyk baie soos die ander en dit is nie maklik om hulle van mekaar te onderskei nie.”

Sy sê al die honde wat na hul eienaars terug gaan, ontvang ’n mikroskyfie met die hond se naam en ’n kontaknommer aan ’n halsbandjie sodat die eienaars in die toekoms makliker opgespoor kan word. Sy moedig alle honde­eienaars aan om vir hul honde só ’n halsbandjie met kontakbesonderhede aan te sit.

“Baie mense dink hul diere kan nie uit die erf kom nie, maar die diere skrik so erg vir die vuurwerk dat hulle vreemde planne maak om te ontsnap.”

Die Mangaung-metro se Munisipale Regulasie 35 van 24 Junie 2016 verbied die afvuur van vuurwerk en ander geraas wat stres en vrees by diere veroorsaak.

Teen Dinsdag (08/01) het 14 430 mense reeds op die webwerf www.vuma.earth/petitions/sa-ban-noisy-fireworks die versoekskrif aan die parlement geteken om harde vuurwerk in Suid-Afrika te verban.

Daarin word verwys na ’n stad in Italië, Collecchio, waar daar in 2015 wetgewing verskyn het dat alle vuurwerk wat gebruik word, geluidloos moet wees.

Maryke Davis, DA-raadslid, sê die boodskap moet sover moontlik versprei word dat vuurwerk groot stres en angs by diere veroorsaak en ten alle koste vermy moet word.

Sy sê die DA-koukus het in 2016 ’n mosie by die raad ingedien om die verkoop en verspreiding van vuurwerk te verbied, maar daar is teen die mosie gestem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.