Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
VVA verrig steeds reuse-taak
Met gesigmaskers wat hulle gemaak het as deel van ’n projek vir vroue by ’n Covid-19-skuiling, is van links Madelein Kruger (maatskaplike werker), Corné Killian (bestuurder) en Precious Matsietsa-Masoetsa (maatskaplike werker), almal van Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA).Foto: Lientjie Mentz

Sonder die hulp van hul getroue vrywilligers het personeel van Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA) in Watkeystraat die afgelope twee maande nogtans ’n reuse-werk verrig.

Hulle kon dit regkry danksy die hulp van talle organisasies en kerke in die stad.

Corné Killian, bestuurder van die VVA in Watkeystraat, sê die samehorigheid onder liefdadigheidsorganisasies in die stad is regtig iets besonders.

“Gedurende die hele grendeltyd het ons nou saamgewerk met Solidariteit Helpende Hand, Torings van Hoop, Anchor of Hope, asook ander hulpverleners.”

Die VVA is 110 jaar gelede gestig (destyds bekend as die Oranje-vrouevereniging) om die materiële nood van vroue en kinders ná die Anglo-Boereoorlog te help verlig.

“Met die uitbreking van Covid-19 en die inperking moes die VVA terugkeer na hierdie oorspronklike visie, om mense se basiese behoeftes te bevredig in die voorsiening van kos, klere, verblyf en ander noodsaaklikhede.”

Killian sê die sopkombuis moes aanpas en mense moes hul eie borde of bakkies bring.

Die VVA bedien twee keer ’n week gekookte sop, wat personeel self moet maak omdat vrywilligers nie tydens die inperking betrokke kan raak nie.

“Gemeentelede van die Baptistekerk Langenhovenpark en die NG kerk Heuwelsig het ook hul hart oopgemaak en ons met skenkings in verskeie vorme ondersteun.

“Teen 18 Mei kon ons reeds 1 370 etes bedien, 713 kospakkies uitgee en klere aan 101 mense voorsien. Ons het ook huis­houdelike artikels, baba-benodigdhede, toiletware en komberse verskaf aan mense wat dit dringend benodig het,” sê Killian.

Benewens die noodverligting, het die maatskaplike werkers ook dienste ter beskerming en ver­sorging van 60 kinders verskaf.

Madelein Kruger, ’n maatskaplike werker wat haar onlangs by dié tak aangesluit het, sê mense word in hierdie tyd deur vrees oor­weldig.

“Niemand weet hoe lank dit gaan duur nie en hulle is bekommerd oor hul toekoms. Talle stukwerkers wat nou geen inkomste kry nie, leef van die hand na die mond,” sê Kruger.

Killian sê ondanks die goeie nuus van ruim skenkings, is van die VVA se inkomstebronne tydelik gestaak.

Een daarvan is die VVA se kleuterskool, wat tydens die inperking gesluit is. Die winkel waar gebruikte klere goedkoop gekoop kan word, is weer oop.

In die tyd dat die VVA se kantoor gesluit was, tydens die eerste deel van die inperking, het misdadigers toegeslaan.

“Hulle het ons gasbottels wat ons gebruik om kos voor te berei, gesteel en ook die deure se slotte gebreek. Gelukkig het Kobus Venter van Solidariteit Helpende Hand vir ons twee nuwe, gevulde gasbottels geskenk sodat ons ons werk kon voortsit. Daarvoor is ons uiters dankbaar.”

Aan die begin van die inperking het die departement van maat­skaplike ontwikkeling die VVA genader om die vroue by die Covid-19-skuiling in die Norman Doubel-saal by te staan.

“Ons het met hulle verskeie aktiwiteite gedoen en hulle onder meer geleer hoe om self gesig­maskers, en ook badsout, te maak.”

Killian sê sodra vrywilligers weer betrokke kan raak, sal hulle dit waardeer as nog mense hulle by die VVA wil aansluit, of ’n ander bydrae wil maak.

Kontak haar by 051-447-1838.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.