Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Waar ’n rokie is . . .
Noordelike stortingsterrein
Jean Leygonie se foto van die rook wat verlede week oor die woonbuurt naby die noordelike stortingsterrein gehang het.

’n Versoekskrif waarin die inwoners van die Oubos-landgoed die Mangaung-metro versoek om in te gryp rakende die gevaarlike toestande wat by die noordelike stortings­terrein heers, is Maandag (26/11) by die DA ingedien.

Selmé Pretorius, DA-raadslid van wyk 44 (wat Bayswater en Heliconhoogte insluit), sê sy hoop ander meenthuiskomplekse en land­goedere in die omgewing van die stortingsterrein volg die voorbeeld van Oubos om hul talle griewe op skrif te plaas sodat dit aan die metro oorhandig kan word.

Pretorius sê die rookwolke wat gereeld oor die noordelike stortingsterrein en omgewing hang, hou ’n gesondheidsgevaar vir inwoners in. Sy sê talle mense kla oor sinusprobleme en asma wanneer die rook dae lank oor die omgewing hang.

In die versoekskrif sê inwoners van Oubos hulle is besorg oor die lugbesoedeling, veiligheid wanneer brande uitbreek en die veiligheid van die publiek, asook inwoners se gesondheid. Die versoekskrif sê ook daar is groot kommer oor kriminele aktiwiteite by die stortingsterrein.

In ’n brief (sien bl. 17) skryf Pieter Eilers hulle het gesien hoe brande gestig word deur vandale wat voertuigbande en vullis opstapel en dit aan die brand steek.

Pretorius sê die groot probleem is dat die plastiek en ander vullis dae lank smeul.

Sello More, die metro se departementshoof van vullis­verwydering en vlootbestuur, het Saterdag (24/11) aan Pretorius gesê dat die grondverskuiwings­toerusting by die noordelike stortingsterrein stukkend is.

Daar is Maandag (26/11) ’n grondverskuiwingsvoertuig af­gelewer wat gehuur word om die werk daar voort te sit, en daar sou Woensdag (28/11) nog een af­gelewer word om tydelike verligting te bring.

Volgens Pretorius moet die smeulende vullis met ’n dik laag grond bedek word om die brande te smoor. Dié soort brande kan nie met water geblus word nie en sy sê die brandweer is ook nie toegerus om op die stortingsterrein te beweeg nie.

Die DA het ’n mosie dat ’n aksieplan vir die stad se stortingsterreine onmiddellik ingestel word op die jongste raadsvergadering voorgelê en die ANC het dit na ’n artikel 80-komitee verwys. Dié komitee moet die kwessie ondersoek en vasstel hoe die stortingsterreine reggeruk kan word.

Op ’n openbare vergadering in die Indaba-ouditorium in die Bram Fischer-gebou op 20 November het More gesê daar is begin met die verkrygingsproses om behoorlike heinings om die twee stortings­terreine op te rig. Hy het gesê daar sal ook aandag gegee word aan veiligheid op die terreine en die brande wat gereeld hier uitbreek.

Pretorius sê die noordelike stortingsterrein beslaan 45 ha en het ’n geldige permit om nog 30 jaar lank bedryf te word.

Sy sê dit is egter belangrik dat die terrein volgens sy permitvoorwaardes bestuur word. Daar word elke ses maande ’n oudit gedoen om te bepaal of wetgewing daar nagekom word.

Sy het sowat twee maande terug ’n kriminele klag oor die saak teen die metro en amptenare by die polisie ingedien. Die saak is ook onder die aandag van die Open­bare Beskermer, die Menseregtekommissie en die minister van plaaslike regering gebring.

Sy vra dat daar dringend aandag gegee word aan ’n vroeë waar­skuwingstelsel wat die koolstof­dioksiedvlakke meet sodat spoedig opgetree kan word.

Sy bepleit ook ’n gebeurlikheidsplan wat in werking gestel kan word wanneer ’n brand uitbreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.