Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Water, begroting kwel

Leë krane het inwoners oor die stad heen weer met die hande in die hare gelaat.

Die watertekort was onder meer weens die dispuut tussen Bloemwater en die Mangaung-metro oor die bedrag wat die munisipaliteit dié waterverskaffer skuld.

Om die saak te vererger, het twee waterpype Dinsdag (04/06) gebars – ’n toevoerpyp van Maselspoort wat groot dele van die noorde en die sentrale sakekern sonder water gelaat het, en ’n pyp van die Welbedachtdam wat Brandkop van water voorsien.

Rossouw Botes, DA-raadslid, het Woensdag (05/06) gesê daar is Dinsdag reeds begin om die water van die Maselspoort-lyn na ’n alternatiewe lyn oor te skakel. Sodoende kon water aan die Hamilton-pompstasie gelewer word, waarna dit na die Arboretum-opgaardamme gepomp kon word.

Wat die suide betref, sê hy die Brandkop-opgaardam was sowat 89% vol toe die pyp van die Welbedachtdam gebars het.

Watertoevoer in die middestad was Woensdagoggend weer normaal.

Dié krisis kom kort nadat die metro se nuwe begroting Vrydag (31/05) op ’n raadsvergadering – onder beswaar van sommige opposisiepartye – deur die ANC aanvaar is.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, ’n raadslid van die VF Plus, meen die Mangaung-metro se begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplanvan die wat goedgekeur is, dien slegs die ANC-raad, sy politieke basisse en politieke meelopers.

Snyman van Deventer sê die VF Plus het teen die begroting gestem.

“Die sogenaamde begroting vir armes dien nie die weerloses in die metro nie. Dit is duidelik uit Moody’s se oorweging om die metro tot rommelstatus af te gradeer.”

Die redes wat deur die graderingsagentskap aangevoer word, is onder meer:

  • die munisipaliteit se voortslepende swak operasionele en likiditeitsvermoë;
  • die verhogings van meer as 7% per jaar op bedryfsuitgawes;
  • drie jaar se negatiewe opera­sionele en inkomstebalanse; en
  • die 83% van die debiteure-rekeninge wat meer as 90 dae agterstallig is.

Snyman van Deventer sê die ANC misluk jaar ná jaar om by die begroting te hou; die geïntegreerde ontwikkelingsplan is jaar ná jaar dieselfde dokument – met ’n aangepaste datum. Intussen is die ANC planloos oor hoe om ontwikkelings soos die N8-deurgangsroete en die geïntegreerde stedelike vervoerstelsel af te handel.

Sy sê terwyl die ANC aanhou om Mangaung se finansies soos ’n bodemlose put te misbruik, sal belastingbetalers in die komende boekjaar ’n verhoging van hoër as die inflasiekoers in munisipale tariewe moet betaal.

“Die gemiddelde 10%-verhoging wat die begroting voorstel, verarm net alle inwoners.”

Sy sê intussen word dienste nie behoorlik gelewer nie en vooruitgang in die metro is onmoontlik.

  • Barnard Mononyane, Cope-raadslid, meen die gras op die sypaadjies is nou so lank dat voetgangers in die straat moet loop.

Die verkeersdepartement bestaan feitlik nie meer nie.

Hy sê ook daar lê oral hope vullis. Die hele stad, sy riviere en damme, is besoedel. Oonwettige vullisstorting vind oral plaas, maar die metro tree nie op nie. Cent­lec, die metro se elektrisiteitsverspreider, hef 2% meer op krag in die winter, maar dit reflekteer nie in die begroting nie. Mononyane het tog vir die begroting gestem omdat hy glo die metro sal dienslewering verbeter.

  • Sien ook berigte op bl. 2.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.