Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Weerloses in nood

Die Covid-19-pandemie en pres. Cyril Ramaphosa se afkondiging van inperking wat sal duur van vanaand (26/03) om middernag tot op 16 April, het nie net ’n reuse-invloed op ondernemings en organisasies en hul werknemers nie, maar ook op weerlose mense in die gemeenskap.

Die National Homeless Network, waarvan Torings van Hoop ’n lid is, het Dinsdag (24/03) ’n brief aan Ramaphosa gestuur wat versoek dat gespesialiseerde stappe gedoen word om hawelose mense te help.

Volgens hulle is daar duisende mense op straat wat nie huise het waarheen hulle tydens die inperking kan gaan nie. Die netwerk vra die president ook dat die bedrywighede van skuilings, kosprogramme, sopkombuise en gemeenskaps­gebaseerde gesondheidsdienste as noodsaaklike dienste gelys word en nie deur die inperking tot stilstand gedwing word nie.

Solidariteit Helpende Hand het Woensdag (25/03) sy Josef Silo­projek bekend gestel waardeur mense nie-bederfbare produkte op sekere punte kan aflaai, vanwaar dit aan behoeftiges versprei sal word.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, sê dit sluit aan by hul projek “Gee reg”, wat na twee kante toe werk – dat mense aangemoedig word om reg te gee in tye van nood en dat dié wat ontvang, onderneem om dit reg te versprei.

“Dit word soms nodig in tye van nood dat, wanneer jy het, jy moet uitdeel aan dié wat nie het nie.”

Solidariteit Helpende Hand in Bloemfontein gee in die skool­kwartale weeksdae kos aan sowat 300 kinders by skole oor die stad heen.

Kobus Venter sê met die Josef Silo-projek wil hulle voortgaan om pakkies te maak en dit aan die kinders, asook behoeftiges en bejaardes, te versprei.

Daar is vier verspreidingspunte waarheen mense nie-bederfbare kos kan neem wat die plaaslike kantoor onderneem om te versprei. Dit is Solidariteit se dienskantoor in Kellnerstraat 58C in Westdene en drie van Athalia se huise: by Van Heerdenweg 1 in Willows, Stegmanstraat 14 in Universitas en Voorslagstraat 5 in Fleurdal.

“Hoewel Athalia ’n deel van die voorraad gaan ontvang, is dit slegs ’n afsetpunt waar mense kos kan aflaai en waarvandaan dit versprei moet word. Mense moet ook eers bel om seker te maak dat die kantore wel oop is, omdat dinge nou onseker is.”

Ds. De la Harpe le Roux sê hy het Dinsdag met Mangaung se rampbestuurspan vergader om te kyk of reëlings getref kan word dat Torings van Hoop se sopkombuis in die middestad tydens die inperking oop bly.

“Ons kry baie goeie same­werking van die rampbestuurspan en ons vertrou ons sal toestemming kry om met ons werk voort te gaan.”

Torings van Hoop gee daagliks vir ongeveer 80 hawelose of tydelike hawelose mense ’n ete. Le Roux sê terwyl ander sopkombuise in die stad gedwing word om te sluit, stroom al hoe meer mense na dié sopkombuis.

“Ons voorraad blikkieskos en pasta raak nou vinnig op, so ons het dringend skenkings nodig.”

Hy sê talle van sy gereelde skenkers is ondernemings wat nou vir 21 dae moet sluit.

Ook vir Anchor of Hope se mansskuiling, wat blyplek aan 35 hawe­loses bied, lê moeilike tye voor. Boeta Swart van Anchor of Hope sê die meeste van dié mans doen los werkies en daar is slegs enkeles wat staatstoelae ontvang.

Darien Oosthuizen, Vrystaat-Versorging in Aksie se direkteur, sê maatskaplikedienstekantore moet vanaand sluit.

“Personeel se kontakbesonder­hede sal by kantore van die Suid-Afrikaanse Nasionale Polisiediens beskikbaar wees.”

Sy sê sopkombuise ervaar dat skenkings afneem.

Dienste aan inwoners in tehuise vir bejaardes gaan voort, maar besoeke word opgeskort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.