Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Wees gasvry’
Bloemfontein
Bloemfontein

Bloemfontein is ’n sake-bestemming en dit gaan dalk ’n raps langer neem om die gewone aantal toeriste weer hier te kry.

So meen dr. Johan Hattingh, hoof van die departement toerisme en geleentheidsbestuur aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT).

Dié departement het Vrydag (18/09) ’n webinaar aangebied met gasspreker Natalia Rosa, besturende direkteur van Big Ambitions in Kaapstad, wat hom daarop toespits om reisagentskappe en toerisme-organisasies met bemarking by te staan.

Rosa het ook die hutsmerke #SouthAfricaisTravel­Ready, #IAmTourism en #TravelSafe­EatSafe geskep wat nou al hoe meer gesien gaan word wanneer die land ook weer binnekort buitelandse toeriste kan ontvang.

Hattingh sê die uitdagings wat die bedryf in Bloemfontein en die Vrystaat nou moet oorbrug, is om net basiese koste te verhaal.

“Plekke wat inisiatief geneem het, sluit Parys en Clarens in, wat hulself op die sosiale media bemark,” sê Hattingh.

Hy meen toeriste-bestemmings moes tydens die inperking baie meer aggressief bemark het.

“Die idee is om bewustheid van jou bestemming te skep sodat toeriste graag daarheen wil gaan.

“Gasteplase het ’n ideale geleentheid om hulself nou verder in die mark te vestig omdat die Vrystaat sekerlik die mees ‘Covid-vriendelike’ provinsie is met sy wye oop vlaktes. Min mense op plattelandse dorpies en by lodges maak die Vrystaat nou ’n gewilde keuse.”

Pieter van Rooyen, bestuurder van die Bon Hotel Bloemfontein en ook verteenwoordiger van die toerismebedryf se handels­vereniging Fedhasa, sê die toerismebedryf herstel gewoonlik redelik vinnig ná ’n terugslag.

Hy meen hoewel dit die bedryf is wat heel eerste deur die inperking van vlak 5 geraak is en die laaste gaan wees om te herstel, is mense sosiale wesens en hy voorspel konferensies gaan mettertyd weer soos normaal plaasvind.

“Nou bied ons klein konferensies en ook hibriede konferensies aan, waar ’n deel van die lede teenwoordig is in ’n lokaal en die ander aanlyn ingeskakel is.”

Hulle is ook geregistreer by die #StaySafe-veldtog om gaste van ’n veilige verblyf te verseker.

Hy sê netwerkgeleenthede gaan met aanlyn konferensies verlore en mense moet tussen sessies deur met mekaar kan skakel en gedagtes uitruil.

“Dit is ook uiters belangrik vir die ekonomie dat konferensies weer voortgaan.”

Van Rooyen sê mense moet onthou dat sake-reisigers – hetsy plaaslik of internasionaal – ook deelneem aan die toerisme-bedrywighede van ’n bestemming met toere, verblyf en besoeke aan restaurante.

“Enigeen wat sy huis vir 24 uur verlaat, is in beginsel ’n toeris. Dit is belangrik dat ons nou ook plaaslike toerisme bevorder,” sê hy.

Hattingh sê mense is op soek na unieke ervarings.

“Die afgelope naweek was ’n groep van ons na Gariepdam toe waar ons die dam besoek het en ek ’n informele toer gelei het.

“Mense met unieke stories en produkte moet dit nou bekend stel – met die sosiale media is dit eintlik baie maklik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.