Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Werke skep fantasiewêreld

Die meer as 60 kreatiewe figure en diere, droomwêrelde en surrealistiese fantasie-elemente sal besoekers op ’n towertapyt meevoer, meen David Griessel, wat saam met nog drie illustrasiekunstenaars van Kaapstad in Bloemfontein uitstal.

Dié uitstalling open vandag (14/03) in Gallery on Leviseur en duur tot 7 April.

Nocturnal Meanderings is die sambreel waaronder Griessel, Chris Venter, Martinus van Tee en Linki Lutz hul ink-, waterverf- en gouache-werke (wasverf) aanbied.

Bloemfonteinse kunsliefhebbers wat met Griessel se beminlike wesens vertroud is, kan dus nog meer vindingrykheid verwag.

Dié wesens, sê hy ook namens sy medekunstenaars, is gebore in ’n wêreld ver verwyderd van die daaglikse norme.

“Ons werk is nie net uitbeeldings van nagdiere in die biologiese sin nie; dit is wesens wat nagtelike kenmerke toon. Die kunswerke kan lyk na wispelturige fantasietonele, maar dit is dikwels ernstig en ’n persoonlike uitdrukking. Ons skeppings hink op ’n fyn lyn tussen speelsheid en erns, wispelturigheid en nadenke.”

Griessel sê nie almal beskou illustrasies as deel van die visuelekunste-familie nie; dit word eerder as ’n “basterkind” gesien.

“Wat in Nocturnal Meanderings te sien sal wees, is dus ons vier illustratiewe kunstenaars se ‘basterkinders’,” sê hy.

Van Tee, Venter, Lutz en Griessel het Studio Clowder kollektief gestig, waaronder hulle nou die vierde keer as ’n groep uitstal.

Venter is ’n kinderboek-illustreerder wat van 2009 tot 2019 vyf ATKV-veertjies, asook ander nasionale en internasionale pryse, ontvang het.

Van Tee, ’n illustreerder en karikatuurkunstenaar van Stellenbosch, is versot op sketse van krokodille. Sy voorkeurme­dium is gouache en waterverf.

Lutz, ’n peetkind van die bekende kunstenaar Piet Grobler, het van kleins af geweet sy wil in haar oom se voetspore volg.

In 2015 is sy as een van die wenners van die World Wide Picture Book Illustration-kompetisie gekies.

Die werke is in ’n reisende versameling opgeneem wat in Brittanje, Duitsland, China en Nederland uitgestal is.

Griessel werk ná sy kunsgraad aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) as heeltydse kunstenaar en illustreerder en het reeds talle uitstallings van sy eiesoortige skeppings, meestal in balpuntpen-ink, in Suid-Afrika gehou.

Hy het ook in Frankryk uitgestal toe hy verlede jaar daar op ’n kuns­teverblyf was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.