Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Willie meer as net rugby
Willie Meyer en sy vrou Sonja. Foto: Facebook

Met baie herinneringe kan Willie Meyer (52) oor ’n goeie rugbyloopbaan terugkyk. Die laaste paar jaar het hy ook selfs ’n paar marathons en ultramarathons voltooi.

Dié Bloemfonteiner, wat vir verskeie rugbyspanne – onder meer die Cheetahs – uitgedraf het, sê sy eerste toets vir die Bokke sal altyd vir hom uitstaan.

“Daai gevoel toe ek daar opdraf (teen Skotland in 1997), was onbeskryflik,” sê Meyer.

Hy was iemand wat probeer het om elke wedstryd waarin hy gespeel het, te geniet asof dit sy laaste was.

As jong speler het hy gou leer lag. Hy het toe immers vir die OP gespeel en sy voorrymaat en kaptein was Frans (Domkrag) Erasmus.

“Frans was iets anders. Hy het nie daaraan geglo om voor wedstryde op te warm nie. Hy het altyd in die toilet gaan wegkruip wanneer ons opwarm. Ek en Nico Meyer moes op ’n keer omtrent die deur afskop voordat ons hom op die veld kon kry,” vertel Meyer.

Toe die oud-All Black Alex (Grizz) Wyllie die OP afgerig het, het hy op ’n dag besluit die voorspelers moes vroeër oefening toe kom sodat hy hulle ’n bietjie kon rondjaag.

Erasmus het met opset laat opgedaag. Toe Wyllie hom uitskel en wegjaag, het hy breed geglimlag en “omtrent soos ’n ballerina twee keer in die rondte gedraai en vir die hek gemik,” sê Meyer.

Alles was egter nie net grappies nie. Veral nie Meyer se heel eerste wedstryd vir die OP nie.

“Ek is daardie dag teen Noord-Transvaal op loskop in Anton Barnard se plek gekies. Ek het teen Jan Lock geskrum en hy het al die tande in my mond verskuif,” onthou Meyer.

Ná meer as 100 wedstryde vir die OP is Meyer eers Cheetahs toe, waarna hy hy sy speeldae by die Leeus en die Cats gaan afsluit het.

Dit was vir hom baie spesiaal om in drie Curriebeker-eindstryde te speel.

Meyer het ook 25 keer vir die Springbokke uitgedraf voordat ’n nekbesering sy loopbaan in 2002 tot ’n einde gebring het.

“Nadat ek vir omtrent agt jaar niks (sportiefs) gedoen het nie, staan ek en ’n paar maats toe een aand om die vleisbraaivuur en iemand wed my ek sal nie die volgende dag ’n 10 km-wedloop kan klaarmaak nie,” vertel Meyer.

“Ek aanvaar toe die weddenskap en hardloop die volgende dag die wedloop – maar ek sê vir jou, ek was ná 3 km amper dood!”

Meyer het egter deurgedruk en eindelik die Comrades-wedloop drie keer gehardloop.

Deur die jare het hy ook die Twee Oseane-wedloop en verskeie ander marathons en korter wedlope kafgedraf.

“Toe ek rugby gespeel het, het ek omtrent so 118 tot 122 kg geweeg. Met al die hardlopery het ek in ’n stadium amper 30 kg verloor,” sê Meyer.

Verlede jaar het hy egter in Alicedale se omgewing gaan jag. Toe ’n bakkie vasval, het hy help stoot en ’n sening in sy linkerenkel geskeur.

“Dit het my nogal ondergekry. Ek het eers onlangs weer behoorlik begin stap,” sê Meyer.

Hy is en sy vrou, Sonja, het twee dogters, Jana (18) en Lisa (15).

Meyer is die hoof van die GWK-veilingstak en sê hy geniet sy werk baie. – Michael Green

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Bloem Nuus Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.