Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Almal welkom om deel te wees

“Malmesbury-Veiligheid (MV) is ’n weerbaarheidsorganisasie, daarop gemik dat die hele gemeenskap paraat sal wees wanneer rampe soos ’n aardbewing of tornado ons tref; maar ook ingestel sal wees op die dorp en omgewing se veiligheid teen misdaad.”

Só sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Malmesbury-Veiligheid. MV is die amptelike struktuur wat hom beywer vir die veiligheid van die Malmesbury-gemeenskap.

Terwyl Malmesbury Agri-veiligheid lankal bestaan, was dit nog altyd die ideaal dat plase, ondernemings, al die woonbuurte – trouens die hele gemeenskap – se veiligheid binne een enkele struktuur verseker sal word.

Van der Westhuijzen vertel verder: “Die Maandagaand in Maart toe president Ramaphosa ’n algehele inperking aangekondig het, het ek al my afsprake in Potchefstroom gekan­selleer en huis toe gevlieg. Tussendeur het ons ’n gesamentlike vergadering gereël sodat verteenwoordigers van die munisipaliteit en sy wetstoepassings-afdeling, landbou, polisie, verkeersdepartement en verteenwoordigers van die dorp daardie Dinsdagaand in die Malmesbury-stad­saal vergader. Ons het ’n konsep­struktuur vir gemeenskaps­veiligheid bespreek; ons moes verskeie moontlik­hede ontleed, vanaf ’n ‘worst case scenario’ tot dit wat elke sektor kon doen om algehele veiligheid te verseker. Ons was onder meer benoud dat kosnood dalk oproer kon veroorsaak.

“Onthou, daar was baie onsekerhede en baie fopnuus. Ons Dinsdagaand-vergadering is Donderdagaand opgevolg vir finale reëlings. Elke persoon het intussen gedoen wat hy beloof het en hard gewerk om seker te maak dat ons betyds ’n goeie veiligheidstruktuur vestig. Daardie Donderdagaand, omgeef van onsekerhede, het ons mekaar gegroet met: ‘Sien julle oor ’n maand!’

“Ons het eerstens WhatsApp-groepe in elke deel van die dorp en plase gestig sodat ons inligting na die publiek kon deurgee. Ons doel was om die gevoelens van vrees en magteloosheid om te swaai deur mense met kennis te bemagtig. Al het ek later soos Google gevoel.”

Hierdie struktuur het intussen so gegroei dat groot dele van die dorp en plase hierby ingesluit is en diegene wat nog nie deel is nie, sal eersdaags gekon­tak word vir gesprekke.

“MV is oop vir almal in en om die dorp; ’n organisasie deur almal, vir almal,” glo Van der Westhuijzen.

Lede word per geografiese woon- of besigheidsgebied ingedeel.

“Elke sektor van ons dorp en plase word gelyk behandel, want elke sektor se veiligheid is belangrik. Ons is apolities, almal is welkom om aan te sluit, aansluiting is gratis. Die enigste vereiste is dat jy dit moet doen vir jou gemeenskap en nie vir ander agendas of motiewe nie.”

MV word bestuur deur ’n uitvoerende komitee en beskik oor ’n grondwet en gedragskode. Lede onderteken ’n vrywaringsvorm wanneer hulle aansluit.

“MV is ook geaffilieer by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en Agri-Malmesbury. Laasgenoemde is as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer en ons geld van vrywillige skenkings word onafhanklik binne die struktuur bestuur.

“Intussen het ons daaraan begin werk om al die skole, gemeentes en predikante, maatskaplike organisasies en sakelui te betrek. Ons betrek ook kenners soos regslui en medici, IT- en veiligheidsmanne en die plaaslike munisipaliteit. Ons wil so ’n gesonde veiligheidsmodel skep dat die hele Swartland ’n veilige plek sal wees. Die doel is ’n veilige, stabiele omgewing waarin ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling moontlik is.

“Hoe kan investering in ons streek plaasvind sonder gemeenskaps­veiligheid?

“Gevoelens van vrees en magteloosheid weens die huidige vlaag van misdaad, wetteloosheid, veediefstal en periodieke onluste – ons wil dit juis omkeer wanneer al meer mense betrokke raak by veiligheidsgroepe in hul onmiddellike omgewing. Sodra mense ophou om net te sorg vir sy eie stukkie lewe en meer betrokke raak bymekaar; meer eienaarskap neem vir dit wat in sy gemeenskap gebeur, kan ons die huidige situasie omkeer.

“Ons wil veral pensioenarisse aanmoedig om aan te sluit. Hul kennis en vaardighede is iets wat ons nou benodig. Malmesbury-Veiligheid is vir almal – die enigste beperking is eng denke!”

Dis juis danksy lede van die Malmesbury-Veiligheidsgroep dat Suid-Afrika se grootste tronkontsnapping in Augustus so vinnig omgekeer kon word, toe 68 gevangenes binne 36 uur almal opgespoor en agter tralies besorg is.

“Ons wil elke individu, sakeonderneming, instansie en relevante rolspelers bedank vir hul positiewe bydrae tot die vestiging en uitbou van Malmesbury-Veiligheid. Daar is verskeie individue en sekerheidsmaatskappye wat op eie onkoste, in die nag en dag help om misdaad aan te spreek. Ek wil elkeen van hul daarvoor bedank,” sê Van der Westhuijzen.

“Ons hoop dat ons buurdorpe ook hierdie stelsel sal omarm om so ’n veilige Swartland te verseker.”

. Vir nog inligting, besoek www.MalmesburyVeiligheid.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.