Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beplan nou aan jou boedel

Boedelbeplanning is gewoonlik nie hoog op enigiemand se prioriteitslys nie.

Dit vereis dat ’n mens ongemak­like kwessies in die gesig staar – die dood en die onbevoegdheid om te kan werk – nie aangename gedagtes nie.

Covid-19 is ’n ontydige virus wat binne ’n kwessie van weke die mensdom aan ons weerloosheid kom herinner het en ewe skielik lyk die prioriteitslys anders.

Alhoewel boedelbeplanning nog altyd ’n belangrike aspek van finansiële beplan­ning gevorm het, het al die mediadekking rakende die koronavirus ook gelei tot ’n toename in navrae vir testament-opstelling en -aanpassings asook oprigting van trusts (plaaslik en in die buiteland).

Die voordele van boedelbeplanning

Boedelbeplanning is baie meer as net die opstel van ’n testament.

Dit behels ook finansiële beplanning om te verseker dat daar genoegsame kontant beskikbaar is om finansiële verpligtinge te kan nakom, sou jy onbevoeg wees om te kan werk (deur polisse wat jou inkomste beskerm) of te sterwe sou kom (deur lewensversekering). In dié gevalle is die doelwit om onsekerheid en finansiële druk te verlig.

Baie boedels is ryk aan bates, maar het ’n tekort aan kontant om skuld oor die kort termyn te delg.

Die kan lei tot ongemaklike finansiële situasies en moeilike besluite wat deur jou erfgename en sakevennote gemaak moet word. Tensy jou boedel wel skuldvry is en volop kontant het, is dit noodsaaklik om finansiële beplanning deel van jou boedelbeplanning te maak om te kan verseker dat bates binne die familie bly en ondernemings nie tot stilstand kom nie.

Wanneer jy jou boedel en geldsake beplan, moet jy onder meer ook poog om jou belastingaanspreeklikheid te verminder. Die soort belasting ter sprake is skenkingsbelasting (20%), boedelbelasting (20%) vir boedels waarvan die waarde meer is as R3,5 miljoen is, en 25% vir boedels waarvan die waarde bo R30 miljoen is) en kapitaalwinsbelasting (40% van die groei word ingesluit by iemand se belasbare inkomste nadat die toelaatbare jaarlikse aftrekking in ag geneem is). Jy kan ook eksekuteurskostes verminder deur eienaarskap van bates so te struktureer dat dit deur ’n trust besit word.

Sou jy bates in meer as een land besit, kan belasting soms ook gehef word deur die belastingowerheid van die land waar die eiendom geleë is. Daardie land kan dalk spesifieke reëls hê rakende vererwing en baie spesifiek wees oor wie mag erf – ’n konsep wat nie in Suid-Afrika van toepassing is nie, tensy jy intestaat (sonder ’n testament) sterf.

Versigtige en ingeligte beplanning kan heffing van dubbele belasting en gedwonge erfgenaamheid verhoed.

Baie families is komplekse strukture met meer as een huwelik of daar is kinders van verskillende huwelike betrokke.

’n Boedelplan wat goed deurdink is, sal jou geliefdes beskerm teen hofsake en finansiële onsekerheid. Jy kan dit bewerkstellig deur bates vroegtydig na ’n trust oor te dra.

Dit is selfs moontlik om sekere generasies uit te sluit van vererwing deur die gebruik van trusts, as jy voel hulle hoef nie te erf nie.

Die rol van trusts in boedelbeplanning

Oor die afgelope paar dekades het die oprigting van trusts gewild geraak as gevolg van die moontlikheid om boedel- en ander belastingverpligtinge te verminder.

As gevolg van veranderinge in die Wet op Inkomstebelasting, is trust-strukturering nie meer so doeltreffend en eenvoudig uit ’n belasting-oogpunt nie. Tog bied dit steeds batebeskerming teen krediteure en kan rykdom op ’n volhoubare grondslag vir toekomstige geslagte bestuur word. Trusts kan ’n belangrike rol in jou boedelbeplanning speel indien jy die volgende wil bereik: . Batebeskerming en ’n nalatenskap wil los vir ’n toekomstige generasie(s);. Beskerming van bates teen krediteure of eise as gevolg van ’n verbrokkeling van verhoudings;. Om te sien na die behoeftes van minderjariges of gestremdes;. Te verseker dat begunstigdes voordeel trek uit bates wat nie maklik onderver­deel kan word nie, soos ’n plaas of vakansiehuis;. Skeiding van persoonlike- en besigheidsbates;. Voorsiening te maak vir afhanklikes en familie wat nie in staat is om met geld te werk nie.

Om ’n geldige trust op te rig, moet die oprigter van die trust die bedoeling hê om eienaarskap van die bates na die trustees oor te dra.

Sou daar enige onsekerheid rakende hierdie aspek bestaan (deur byvoorbeeld nie werklik beheer oor te gee nie), sal die trust misluk en sal die bates steeds geag word dié van die oprigter te wees.

Só ’n trust kan in ’n hof tersyde gestel word en dit sal uiteraard ’n baie negatiewe impak op enige boedelbeplanning hê.

Hersiening van jou boedelbeplanning

Hersiening van jou testament, finansiële en algemene boedelbeplanning moet minstens een keer per jaar gedoen word.

Dit sal vereis dat aanpassings gemaak word op grond van inkomste en bategroei/vermindering of blote verandering van omstandighede. Sou jy gereeld bates bekom of daarvan ontslae raak, is ’n meer gereelde hersiening nodig.

Privaatheid en boedelbeplanning

Goeie redes bestaan dikwels om jou boedelbeplanning vertroulik te hou, maar dit is tog nodig om onsekerheid en onvoorbereidheid onder jou naaste familielede en sakevennote te verhoed, veral in ’n emosionele tyd wanneer hulle eerder oor jou afsterwe sou wou treur.

Bespreek jou boedelbeplanning met jou gesin of ten minste ’n eggenoot. Aan die einde van die dag is dit vir hul toekoms wat jy beplan.

. Hierdie berig is deur Coreen van der Merwe, direkteur van Sovereign Trust SA Limited, geskryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.