Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Betogings eis lewens

Twee mense is in die betogings in Caledon doodgeskiet.

Dít is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) bevestig nadat hy die toneel Donderdag 4 April besoek het.

Die Caledon-polisie het aan­vanklik aan Theewaterkloof Gazette gesê dat die twee mans moontlik deur betogers betrap is.

Jason Windvogel (17) en Tehobo Motselebane (25) het Donderdag hul lewe verloor in ’n skietvoorval op die brug bo-oor die treinspoor.

Die Caledon-gemeenskap­forum het die betoging sonder toestemming van die munisi­paliteit gehou om kapsie te maak oor dienslewering.

Volgens kol. Pete, Caledon se stasiebevelvoerder, moes die betogings eers vandag (Dinsdag 9 April) plaasgevind het.

Pete het Donderdag gesê die situasie is uiters gespanne om­dat twee mense dood is. “Sommige betogers wou Don­der­dag Avbob afbrand, maar die polisie het hulle gekeer.”

Donderdagmiddag het die onderburgemeester, Isaac Sileku, toestemming gegee dat die betogers hul memorandum aan hom oorhandig.

’n Minuut van stilte vir dié twee jong mans is gevra.

Jason se ma, Belinda Windvogel, vertel hulle het eers Donderdagaand van sy dood gehoor.

Fabian Booysen, Jason se broer, sê hy is een van drie broers. Hy vertel sy broer is in die bors geskiet. “Jason het by ’n olyfplaas gewerk,” vertel hy.

Belinda sê hartseer dat hy terug is van ’n boot camp wat hy baie geniet het.

“Ons mis hom. Kyk, hy het gekrap. Ons ken hom so, ons gaan dit alles geweldig baie mis.”

Tehobo se suster, Moleboheng Motselebane (27) sê sy is baie hartseer oor haar broer se dood, want hy was hulle broodwinner. Hy was haar enigste broer en sy het nog ’n suster. Moleboheng vertel haar ouers is dood en al familie wat oorbly, is haar oom en ouma. “My hart is baie seer en ons weet nie wat die toekoms vir ons gaan inhou nie.”

Donderdag, na afloop van die betogings, het mense wat aan die optog deelgeneem het, grond langs Riemvasmaak begin afsteek.

Die munisipale woord­voer­der, Hugo Geldenhuys, het by navraag bevestig dat die grond aan TWK behoort. “Hulle mag nie die grond neem nie, want dit is munisipale grond en daar is ’n interdik teen die beset­ting van die grond.”

Volgens Geldenhuys is die grond vir behuising geoormerk en het die projek reeds begin met wonings vir meer as 1 000 huishoudings.

Sileku het in ’n mediavry­stelling gesê die munisipaliteit is diep bedroef oor die dood van die twee mense.

Sileku het voorts gesê dit is duidelik dat betogings nie net ’n werklikheid in TWK is nie, maar ook ’n nasionale neiging is. Hy het voorts gesê dat be­togings meer gewelddadig raak, soos die onlangse Botrivier-betogings.

“Vrese dat mense kan seer­kry of doodgaan het ’n werklikheid geword en ek dink die tyd het aangebreek vir almal in Suid-Afrika om te herbesin oor die wyse waarop betogings beplan en uitgevoer word.”

’n Memorandum met 16 griewe is Donderdag aan Sileku oorhandig. Volgens Timo Douglas van die Caledon-gemeenskapsforum sou hulle gister met TWK ontmoet om die punte te bespreek.

Moses Dlamini, woordvoer­der van Opod het by navraag bevestig dat twee betogers 4 April geskiet is. “Opod het na afloop van die voorval by die toneel opge­daag.”

Dlamini sê in hierdie stadium kan hulle nie bevestig wie die betogers geskiet het nie. “Die vuurwapens van die polisie, sekerheidswagte en wetstoepassing is gekonfiskeer en vir ballistiese toetse ge­neem. Die ondersoek duur voort en niemand is in hegtenis geneem nie.” . Die munisipaliteit het voorgeneem om 11 April te reageer op die memorandum.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.