Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Blitsbokke slaggereed

Drie Blitsbokke wat van Maandag 26 Julie tot Woensdag 28 Julie hul debuut gaan maak as lid van die SA sewesgroep in Tokyo, is Angelo Davids van Klipheuwel, ’n oudleerder van die Hoërskool Stellenberg, Kurt-Lee Arendse van die Paarl en tans ’n student aan die Universiteit van Wes-Kaapland, en Zain Davids van Grassy Park.

Net Chris Dry van Stellenbosch en Justin Geduld van Ravensmead, ’n oudleerder van die Hoërskool Tygerberg, neem aan hul tweede Olimpiese Spele deel, en was albei bronswenners by die Spele in Rio de Janeiro.

Die ander debutante is Branco du Preez, Selvyn Davids, Sako Makata, Stedman Gans, JC Pretorius, Impi Visser, Ruhan Nel (12de speler) en Ronald Brown.

Davids (Angelo), of Ou Step, soos hy ook bekend is, is geen skilpad op die veld nie. Sedert hy by die Blitsbokke aangesluit het, suiker hy langs die kantlyn af op pad doellyn toe en dis moeilik om hom in die hande te kry as hy eers na vierde rat oorgeskakel het.

By Stellenberg het hy in veral atletiek uitgeblink, maar nadat hy ’n proesel rugby by dié skool gekry het, was daar geen keer aan sy vertonings op die rugbyveld nie.

Hy druk maklik twee of drie drieë in ’n wedstryd en almal het ’n traan weggepink toe hy sy eerste drie in Australië aan sy ma, Ellen Davids, op internasionale televisie opgedra het. Daarna was dit net hakskene wys vir almal wat aan die HSBC-Sewesreeks in tien toernooie wêreldwyd deelneem. Hy het vroeër vanjaar vir die Westelike Provinsie uitgedraf, maar was nie so dodelik in die 15’s soos in die 7’s nie.

Arendse, bekend as Ou Smile, is in die Blitsbokspan opgeneem toe hy vir UWK in die 7’s uitgeblink het. Op die veld is hy baie bedrieglik met sy systappe en het ook altyd ’n glimlag op sy gesig. Hy was uitstekend vir die Bulls in die plaaslike kompetisie.

Hy moes twee keer Covid-19 oorwin en is nou op pad Japan toe.

By die Sekondêre Skool Paulus Joubert in die Paarl is hy ’n groot held, maar sy roem het nie na sy kop toe gegaan nie. As hy sy tuisdorp besoek, maak hy ’n draai by sy skool en besoek sy rugbyafrigter Athol Ontong vir ’n geselsie of om net sy deelname op die wêreldverhoog met ander leerders te deel.

Sedert hy by die Blitsbokke aangesluit het, het hy nie net as rugbyspeler gegroei nie, maar hy het ook ’n verskil op die veld gemaak as hy van die bank gespeel het.

Geduld het ook ’n draai by die 15’s gemaak vir die WP voordat hy by die Blitsbokke aangesluit het. In die Sewesreeks is hy bekend vir sy breekslae en hoe om die spel te dikteer, maar veral vir sy veelkleurige haarstyl.

Dit sal interessant wees om te sien met wie die afrigter Neil Powell gaan begin, want hy kan tussen Geduld en Du Preez kies op skrumskakel, maar Geduld sal ook moet rekening hou met die ander Davids (Selvyn), bekend as die Alles-in-een-speler, op losskakel. Wie kan vergeet hoe Davids met sy rugby- en sokkervaardighede in Vancouver in Kanada die kommentators na byvoeglike naamwoorde laat soek het, toe hy soos ’n wafferse sokkerspeler die bal in die spel gehou het nadat almal gedink het die bal is uit? Een kommentator het selfs gesnak na asem en gevra waar is die Argentynse superster Diego Maradona.

Die ander Davids (Zain), ook bekend as die Ysterman, kom by jou eerste ontmoeting met hom as baie sag en vriendelik voor, maar boeta, sy krag is bedrieglik en hy hou maklik spelers in die lug om te verseker dat SA die strafskop kry.

Hy is ook nie bang om die vuilwerk op die veld te doen nie en is gewoonlik eerste by om ’n losbal op te raap of om die bal in ’n losgemaal te gaan uitgrawe. Hy is ook glad nie stadig oor die veld nie en soms is hy die een wat die bal aan die laaste speler gee om te gaan afrond vir vyf punte.

Die HSBC-Sewesreeks is sedert Maart verlede jaar weens die Covid-pandemie gestaak en al die spanne wat deur die jare aan die reeks deelgeneem het, is almal in aksie.

Hier en daar is daar nuwe bloed in spanne ingebring vir die Olimpiese Spele, maar die meeste spanne ken mekaar se sterk en swak punte en dit sal interessant wees om te sien wie met die goue medalje wegstap. Nieu-Seeland is tans die gunsteling, maar Fiji, VSA, RSA en Ierland kan nie sommer afgeskryf word nie.

Op Maandag 26 en Dinsdag 27 Julie word die groepwedstryde gespeel, voor die kaf van die koring geskei word op pad na die medaljes. Die Blitsbok-ondersteuners sal weer vroegoggend bankvas voor die televisie sit om hul span aan te moedig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.