Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boer vertel van sy pad van depressie en genesing

’n Plaaslike boer van ’n plaas tussen Robertson en Bonnievale vertel dat dit nog altyd vir ander mag gelyk het of hy die perfekte lewe het, maar wat niemand weet nie, is dat hy al jare lank met depressie sukkel en vyf keer sy eie lewe probeer neem het.

“Ek was baie populêr op skool gewees. Meeste kinders het my geken en baie wou vir een of ander rede met my bevriend wees. Ek het op sportgebied uitgeblink en was gewild onder die skoner geslag. Maar ek het ’n donker kant gehad. ’n Kant wat ek net vir myself sou hou as ek in die wingerd of alleen in my kamer was,” vertel Louis Botha* (33) aan Gazette.

Louis vertel dat hy in ’n huis grootgemaak is waar liefde en respek die kern van alles was, maar dit was ook vir hom ’n huis waar hy gevoel het dat hy nooit homself kon wees nie.

“My pa was ’n man met ’n humeur wat al blaffend jou wou aanval. Alles moes volgens sy manier gedoen word. Ek het nie gedurf om ’n voet verkeerd sit nie en nie gedurf om emosie te wys nie anders was ek bestempel as ’n ‘sussie’. My ma is ongelukkig oorlede toe ek agt jaar oud was en ek was die enigste kind in die huis,” vertel hy verder.

Louis verduidelik dat hy nie presies geweet het wat hom gejaag het nie en dat dit vir hom sou kwaad maak as mense sou sê hy “kan nie oor baie kerm nie, want hy het alles en kry alles wat sy hart begeer”.

“Dit was dalk so met aardse dinge. Nie altyd emosioneel nie. Ek onthou my ma sou altyd drukkies gee en my moed inpraat, maar my pa het op ander maniere sy liefde gewys. Depressie was by my ma gediagnoseer, maar ek het nooit geweet wat dit beteken nie en niemand het dit aan my verduidelik nie. Nooit sou ek kon raai dat ek op die ouderdom van 28 daarmee gediagnoseer sou word nie.”

Hy vertel dat hy veral in sy 20’s baie eensaam en alleen gevoel het. Toe sy pa in 2010 in ’n motorbotsing oorlede is, het hy geknak. “Ek het myself met verkeerde vriende omring en ek het betrokke met verkeerde goed geraak. Ek het tussen 24 en 27 jaar amper vyf keer probeer selfdood pleeg. Ek het drie maal probeer pille drink, maar twee keer het ek net ernstig siek geword en ’n derde keer het ek in die hospitaal met ’n maagsweer beland. Ek het toe probeer om myself te hang – waar ek my nek met ’n letsel gelaat het toe die tou gebreek het. Die vyfde keer wou ek myself in die bors skiet. Ek was dronk en ek het op my pa se kantoorstoel in sy ou kantoor gaan sit. Ek het die sneller getrek, maar vir een of ander rede het niks gebeur nie. Dit was asof iets of iemand my lewe wou spaar. Ek het net daarna besluit ek kan nie so aangaan nie en ek het ’n vriendin vertel wat aangaan.”

Dié vriendin, nou sy vrou van ses jaar, het dadelik mediese hulp ingewin en hy is na ’n kliniek in die Kaap gestuur.

“Dit was die beste ding wat met my kon gebeur. Ek het nie verstaan hoe depressie werk of wat dit is nie. Ek het nie die impak van trauma verstaan waardeur ek moes werk as kind nie en ek kon dit nie verwerk nie. Nou is ek ’n ander mens. Ek doen waarvoor ek lief is en probeer my ouers se nagedagtenis op die plaas vereer. Ek is gelukkig getroud en ons het ’n dogtertjie op pad. Ek wil deel van haar lewe wees en haar teen enige seer beskerm. Ek wil haar wys dat daar altyd iets is om voor te lewe en dat depressie en ander geestestoestande wel bestaan.”

Hy vertel dat nie almal in sy vriendekring eers weet waardeur hy is nie en dat hy nog op ’n herstelpad is. . Skuilname is gebruik op aanvraag van die persoon met wie hierdie onderhoud gevoer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.