Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boland se ‘Iceman’ sterf

Die geliefde man, pa en rugbyspeler van Robertson, Allen Williams (52), is dood nadat Covid-19 sy lewe geëis het.

Williams, wat ’n plaaslike rugbyafrigter was en sy lewe lank in die Boland deurgebring het, is op 1 Februarie vanjaar in die Mediclinic Worcester opgeneem danksy Covid-19. Hy is op 4 Februarie na die hoësorgeenheid oorgeplaas en het sy laaste paar weke daar deurgebring.

Sy familie moes egter Sondag 28 Februarie afskeid van hom neem nadat hy dié stryd verloor het.

Williams, wat in rugbykringe as “Iceman” bekend was, is in Robertson gebore en het sy skoolloopbaan aan Langeberg Sekondêr voltooi. Hy het op skool reeds ’n groot liefde en passie vir rugby gewys.

“Hy was sportmal. Ek onthou van kleintyd af hoe lief hy vir rugby was. Dit was een van sy grootste passies,” vertel sy suster, Hillary Jacobs, aan Gazette.

Sy vertel hoe hy in 1986 sy matriekjaar voltooi het en daarna by die onderwysdepartement gewerk het. Hoewel hy vir ’n jaar in Bellville in die Kaap gewerk het, het hy ná ’n paar maande teruggekeer na die Boland om op sy passie vir rugby te fokus terwyl hy plaaslik ook by die onderwysdepartement gewerk het.

Hy het in 2001 besluit om met die liefde van sy lewe, Meagan, te trou en hulle het uit hul huwelik twee seuns ryker geword.

Williams het van 1993 af tot in 2000 vir die Robertson Town-rugbyklub gespeel. Daarna en tussendeur was hy betrokke by die Boland-rugbyspan en het teen onder andere die WP uitgedraf.

John Booysen, sy vriend en hoofafrigter by dié klub waar Williams ook die afgelope paar jaar die voorry afgerig het, vertel hoeveel respek en liefde hy vir sy vriend het.

“Ons het van jongs af in die agterplaas en selfs in die straat saam rugby gespeel. Ons was saam op skool, en hoewel hy as stut begin het, het hy homself ingegroei en later die posisie as flank oorgeneem.

“Ek was onderkaptein by Town en hy was die kaptein.

“Hy was baie passievol in rugby en daarom was ons albei nog al die jare by klubrugby betrokke.”

Booysen vertel Williams was selfs laat vir sy troue. Die seremonie moes as gevolg daarvan met ’n paar uur uitgestel word omdat hy dieselfde oggend nog eers ’n wedstryd teen Ceres gespeel het.

Sy suster en vriend vertel hoe geliefd hy onder mense was.

“Hy was ’n ware gentleman. Net so kalm soos hy kon wees in enige situasie, so was hy die teenoorgestelde op die veld. Hy het altyd sy alles gegee. Sy oomblik van trots was toe hy in die 1990’s as Boland-rugby se kaptein teen die WP op Nuweland kon uitdraf, die span tot glorie gelei en selfs ’n drie gedruk het.”

Hy het ook verseker dat die plaaslike Town-span van die C-liga na die A-liga skuif en het altyd verseker dat die manne se gees optimaal positief is.

“Hy het altyd sy laaste vir ander gegee. Ons gaan hom baie mis,” vertel sy suster verder.

Talle het hul medelye en staaltjies op sosiale media en plaaslike Whatsapp-groepe gedeel.

Geen begrafnisreëlings is getref nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.