Alle geregistreerde buurtwagte wat graag patrollie wil doen, word herinner om vir die nodige permit by die departement van gemeenskapsveiligheid aansoek te doen.
Dít volgens die minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz.
Volgens Fritz het 147 van die geakkrediteerde 322 buurtwagte reeds aansoek gedoen en die nodige permitte ontvang.
Hy wil daarom voorsitters van geakkrediteerde buurtwagte weer herinner om navraag te doen by die departement se buurtwag-eenheid om nuwe permitte uit te reik rakende die aandklokreël tussen 21:00 en 06:00.
“Die werk wat ons buurtwagte doen om ons gemeenskappe veilig te hou, is van kardinale belang. Ek doen dus ’n beroep op alle geakkrediteerde buurtwagte om seker te maak dat hulle oor die betrokke dokumentasie beskik sodat hulle kan aanhou om hierdie werk te doen terwyl hulle die wet nakom.”
Fritz het in Desember met die polisie in die Wes-Kaap geraadpleeg en ooreengekom dat geakkrediteerde buurtwagte mag patrolleer onder die nuwe stel regulasies.
“Na oorlegpleging met die polisie se regsdienste het die provinsiale polisie bevestig buurtwagte kan volgens die aangepaste vlak 3-regulasies funksioneer, mits alle toepaslike protokolle nagekom word. Om dit te doen, moet buurtwagte te alle tye die nodige permitte op hulle hê terwyl hulle hul pligte uitvoer.”
Die permitte wat voorheen uitgereik is, is nie meer geldig nie omdat die regulasie soos gepubliseer in die Staatskoerant (no 11217) van 29 Desember verander het.
“Ek doen ’n beroep op ons buurtwaglede om alle voorsorg te tref en hulself te beskerm teen infeksies en die oordrag van Covid-19. Dit sluit in praktiese stappe soos om te verseker dat patrollievoertuie nie meer as die voorgeskrewe aantal passasiers vervoer nie, dat patrolleerders maskers korrek dra en gereeld hul hande ontsmet, en ’n veilige sosiale afstand handhaaf terwyl hulle buite op patrollie is.”
Vir nog navrae, e-pos die departement se buurtwag-eenheid by Neighbourhood.Watch@westerncape.gov.za.