Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Covid-19: Feeste en ander byeenkomste gekanselleer

Ná aanleiding van president Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging op die verbod op samekomste van 100 mense en meer weens die uitbreek van die Covid-19-siekte is die volgende feeste, vergaderings, saamtrekke en sportbyeenkomste vir eers van die baan af:. Riebeek Valley Olive Festival (Olyffees)

Feesorganiseerders het weens die toenemende kommer oor die verspreiding van Covid-19, die regering se verbod op openbare byeenkomste (meer as 100 persone) en ’n sosiale verantwoordelikheid om sosiale kontak te verminder, die moeilike besluit geneem om die gewilde Riebeek Valley Olive Festival wat Saterdag 9 tot Sondag 10 Mei gehou sou word, uit te stel tot verdere kennisgewing. ’n Nuwe datum sal weer gekommunikeer word sodra daar meer duidelikheid oor die pad vorentoe vanaf die regering ontvang word. Alle kaartjies wat reeds bespreek is, sal volledig terugbetaal word via www.webtickets.co.za.. Swartland-inligtingsessie

Weens die vinnige verspreiding van die Covid-19-siekte wat wêreldwyd nuwe uitdagings vir sakeondernemings te weeg gebring het, het die Swartland-wyn- en olyfroete ná samesprekings met Santam (as borg) besluit om die Swartland-inligtingsessie wat Dinsdag 7 April by Allesverloren sou plaasvind, te kanselleer tot verdere kennisgewing. . Koringberg Funduro

Weens die beperking op samekomste van 100 of meer mense, is vanjaar se Funduro-pretrit wat Saterdag 28 Maart sou plaasvind en jaarliks tweewiel- en vierwielmotorfiets­entoesiaste lok, ook gekanselleer. . Pinotage & Biltongfees

Die Pinotage- en Biltongfees wat Saterdag 18 en Sondag 19 April by Perdeberg-kelder tussen Paarl en Durbanville sou plaasvind, word geskuif na ’n latere datum. Die datum sal nog bevestig word.. Suidoosterfees

Na aanleiding van die ernstige kommer oor die Covid-19-siekte, oftewel die koronavirus, het die bestuur en direksie van die Suidoosterfees ’n besluit geneem om dié fees, wat van 27 April tot 3 Mei in Kaapstad sou plaasvind, na later in die jaar uit te stel. Die nuwe feesdatum sal aange­kondig word sodra uitsluitsel oor die impak van die pandemie verkry word.

Hierdie besluit is na deeglike oorweging geneem nadat daar met die verskeie rolspelers gekonsulteer is.

“Dit spyt ons dat die fees uitgeskuif moet word. Ons probeer om hierdie uitdaging so kreatief, innoverend en verantwoordelik moontlik te hanteer om seker te maak ons bied ’n fees van die hoogste gehalte, toeganklik vir almal, aan,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees.. SA Kaasfees

Die raad van Agri-Expo, organiseerders van die SA Kaasfees wat van 24 tot 27 April by Sandringham gehou sou word, het ná wye konsultasies met provinsiale regering en ander rolspelers oor die groeiende bekommernis oor die Covid-19-pandemie besluit om vanjaar se fees te kanselleer.

Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, het die fees se vennote, uitstallers en ondersteuners bedank vir hul begrip en geduld in hierdie besluitnemingsproses.

“Die SA Kaasfees bied jaarliks ’n platform vir kaas­makers en entrepreneurs van oor die land heen om hul produkte aan tot 30 000 feesgangers ten toon te stel. Die kansellasie van die SA Kaasfees sal ’n definitiewe ekonomiese impak hê.”. Twee Oseane-marathon

Die Twee Oseane-marathon (TOM) se NPC-bestuurslede en die organiseerders van TOM 2020 het in ’n verklaring gesê hulle besef dat dit onmoontlik is om veiligheid by hardlopers by die byeenkomste te waarborg in die lig van die Covid-19-pandemie.

“Aangesien dit die grootste bekom­mer­nis is, sal dit onverantwoordelik wees om hardlopers aan enige risiko van infeksie bloot te stel, en daarom word die Twee Oseane-marathon in 2020 en al die gepaardgaande gebeure gekanselleer,” lui die verklaring. . Spar Women’s Race

Die Spar-vrouewedloop wat Sondag 5 April by Groenpunt-stadion sou plaasvind, is ook gekanselleer.

Vanjaar se Cape Epic-fietstoer wat van 15 tot 22 Maart sou plaasvind, is ook vroeër gekanselleer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.