Caltex in Riviersonderend het verlede week die dam na die ingang van die dorp skoongemaak.
Hugo Lerm, die operasionale bestuurder, het by navraag gesê hulle is tans besig om die dam skoon te maak omdat dit amper opgedroog het na die afgelope warm dae.
“Daar word ongelooflik baie slik en modder uitgeskep.” Hulle het ook die visse gered omdat daar min suurstof in die dam was en hulle na ’n nuwe tuiste geneem.
Hugo waarsku dat die dam nie gesien moet word as ’n speelplek nie.
“Die dam gaan dieper wees as daar nou weer water in is. Daar mag nie in die dam geswem word nie.”
Hy meen hulle sal in die toekoms nou meer water vir besproeiing tot hul beskikking hê.
“Die hoofrede is natuurlik omdat ons wil hê dit moet mooi lyk as die mense die dorp inry.”
Die Caltex-span wil graag dankie sê vir Overberg Agri en die bestuur van Moov Fuels wat toestemming gegee het vir die skoonmaakprojek asook vir Human-landboudienste en die betrokke boeregemeenskap wat hulp verleen het om die taak suksesvol te voltooi.