Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Die Covid-19-helde woon hier tussen ons

Wat doen jy as jy nes baie ander Suid-Afrikaners bang is vir Covid-19?

Jy maak soos ’n plaaslike suster en skuif jou vrees eenkant toe sodat jy ander kan help.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid vereer graag personeel soos Audrey Michaels van Bergsig-kliniek in Robertson.

Sy is benoem as ’n held in die Kaapse Wynland vir hierdie ingesteldheid teenoor dienslewering toe sy haar vrees oorwin het en omdat sy self ook Covid-19 gewen het.

“Ek het baie gebid en my vertroue in die Here geplaas sodat ek positiwiteit kon uitstraal en pasiënte, wat ’n vrees gehad het vir dié virus, kon moed inpraat,” vertel Audrey.

Voordat sy self Covid-19 gekry het, was sy onseker hoe om dié siekte aan pasiënte te beskryf, maar nou kan sy haar ervaring met hulle deel en hulle aanmoedig om voorsorgmaatreëls te tref omdat die virus ook hier in Robertson en die Langeberg ’n werklikheid is.

Vroeg in die pandemie het mense in ander gebiede van die Kaapse Wynland positief vir Covid-19 getoets, maar dit het ’n geruime tyd geneem voordat die eerste persone in die Langeberg positief vir die virus getoets het. Dit het dit vir personeel moeilik gemaak om mense in die Langeberg-gemeenskap oor Covid-19 in te lig. “In die begin was dit ’n groot aanpassing. Pasiënte het dit moeilik gevind om aan te pas, om die 1,5 meter veilige afstand te behou, om maskers te dra en om hande gereeld te was,” verduidelik Audrey.

Audrey onthou hoe sy in ’n oogwink tussen 5 en 7 Junie verander het van iemand met ’n seer keel tot iemand wat amper nie uit die bed kon opstaan nie. Sy het positief vir Covid-19 getoets en haarself tuis afgesonder. Sy was een van die eerste personeellede in die Langeberg wat Covid-19 gekry het. “Ek was baie emosioneel. My dogtertjie was baie bang omdat ek so siek was. Die ergste was om alleen tussen vier mure te lê en niemand mag by my kom nie. Ek het nagte om gehuil en baie gebid.”

Toe sy begin kortasem raak, is sy vir vier dae gehospitaliseer. Dit het gevoel asof sy die stryd teen Covid-19 verloor, maar toe sy op haar laagste was, het haar kollegas haar ondersteun. Sy het daagliks oproepe en boodskappe gekry. “Hulle het saam met my gehuil en saam met my gebid. Hulle het tot ’n ‘drive by’ gehou net om te kyk hoe dit met my gaan. In hierdie tyd het hulle nie net vir my nie, maar ook my ouers baie ondersteun. Dankie vir dit, Bergsig-kliniek! Ek is trots om deel van die span te wees.”

Toe sy weer begin werk het, was sy steeds kortasem. Sy het stelselmatig vol dae begin werk. Sy was bang dat sy weer Covid-19 sou kry, maar het haar vrees eenkant gesit sodat sy ’n diens aan die gemeenskap kan lewer.

Terwyl sy tuis in afsondering was, het sy gevrees vir die gesondheid van haar bejaarde ouers en die van haar dogter.

Audrey moedig almal aan om dit ernstig te oorweeg om na ’n kwarantyn- of isolasiefasiliteit te gaan as dit nodig is sodat hulle nie hierdie bekommernis het nie.

“Dit was ’n emosionele mallemeule. Ek is net dankbaar dat ek dit oorleef het. Die virus is steeds ’n werklikheid. Beskerm jouself nog steeds soos jy het in vlak 5 van die inperking. Dra jou masker, vermy groot byeenkomste en was jou hande gereeld. Jy moet alles doen wat jy kan om jouself en jou geliefdes te beskerm.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.