Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Droom om matriekafskeid te hê nou ook aan skerwe

’n Stokkie is verlede week voor skole se planne gesteek om op swierige wyse ’n afskeid vir vanjaar se matriekgroep te hou – ’n geleentheid wat deur menige as dié hoogtepunt in hul skoolloopbaan beskryf word.

Die departement van basiese onderwys het verlede week sy besluit herroep om matriekafskeide die groen lig te gee. Dít nadat talle skole reeds reëlings getref het om vir oulaas matrieks die geleentheid te gee om ’n moeilike jaar te midde die Covid-19-pandemie op ’n hoogtepunt af te sluit voor hul die laaste eksamen van hul skoolloopbaan aandurf.

Justus Schoonraad, skoolhoof van Hoërskool Swartland (HSS) in Malmesbury sê hulle het reeds briewe aan matrieks en hul ouers uitgestuur om hulle in kennis te stel dat daar nie onder die huidige inperkingreëls ’n matriekafskeid gehou sal kan word nie. Talle ander skole het ook al intussen aangekondig dat hulle nie ’n matriekafskeid sal hou nie.

HSS se matriekafskeid was vir 17 September beplan.

“Die matriekafskeidkomitee werk eintlik effektief een jaar, sodra die matriekafskeid afgehandel is, begin die volgende groep beplan vir geld, temas, venues, ens.

“Die matriekafskeidkomitee onder leiding van Hanneline Mostert het in Maart vergader en die laaste besluite is geneem ten opsigte van die tema, die venue, die vervoer na die plek en kleiner detail. ’n Week of wat later het die president alle beplanning omgekeer. Die komitee het weer vergader om te kyk of die reëls onder die verskillende ramptoestandvlakke omseil kan word. Sekere maatreëls maak dit feitlik onmoontlik om te vergader of dit ’n matriekafskeid is of ’n prysuitdelingsgeleentheid. Die teenstrydigheid in die beperking van 50 mense in ’n saal is dat ek in ’n vliegtuig van Kaapstad tot Johannesburg vir twee ure kan sit met 180 passasiers,” sê Schoonraad.

Hy sê hy is wel bewus van ’n groep matriekouers wat privaat funksies vir hul kinders wil aanbied.

“Die funksies is privaat en die skool het niks met die organisasie van die geleenthede te doen nie.”

Hy voeg by: “Die 2020-matriekgroep is baie geleenthede ontneem deur die Covid-19-pandemie, die sportgeleenthede onder meer toere en interskole, ’n koortoer na Europa, akademiese onderrig in klaskamers, eisteddfod, ensovoorts en nou ook die matriekafskeid. Tog is baie geleer in die inperkingstyd en is hulle die eerste groep wat vir bykans vier maande op e-leerplatforms, hul matriek moes baas raak. Deur die nuwe leerervaring is hulle onmiddellik gereed vir die lewe ná skool, hetsy dit as student by ’n universiteit of in ’n beroep wat van uit die gemak van sy of haar woning moet werk.”

In Robertson in die Langeberg-streek, is leerders en onderwysers ook hartseer oor hierdie besluit wat deur die departement geneem is rakende matriekafskeide wat afgelas is.

“Ons kan nie eintlik veel sê oor die matriekafskeide nie. Die besluit is klaar geneem. Die leerders is baie hartseer, maar ons moet aanpas by die huidige situasie.

“Daar is ongelukkig niks wat ’n mens daaraan kan doen nie. ’n Mens kan nou net positief bly en vorentoe kyk. Ons glo hulle het die besluit geneem met die oog op die veiligheid van die kinders,” het Van Dyk Hattingh van Hoërskool Robertson gesê.

’n Matriekleerder van Montagu, Abigail Johnston, het aan Gazette gesê sy beplan al van graad 8 af aan haar droomrok en dat die werklikheid eers oor die naweek ingeskop het.

“Dit is baie hartseer. My rok was amper klaar, want daar was daardie bietjie hoop dat dit nog sal kan plaasvind. Nou is dit net weggevat,” vertel sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.