Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eerste sterfte in Overberg
Covid-19

Die koronavirus het Vrydag sy eerste slagoffer in die Overberg geëis.

Roché Butler, mediawoordvoerder van die gesondheidsdepartement van die Overberg, het by navraag bevestig die Overberg het sy eerste koronavirus-dood in die Swellendam-munisipaliteit aange­teken. “Die oorledene is ’n 62-jarige manlike pasiënt wat positief vir die koronavirus getoets het. Hy het ook ’n onderliggende mediese toestand gehad. Ons innige meegevoel gaan uit aan sy familie gedurende hierdie tyd.”

Die koronavirus se infeksiegetalle in die Overberg het die naweek gestyg en teen Sondag 13:00 was daar altesaam 51 gevalle, waarvan 17 mense herstel het en een persoon oorlede is.

Die polisie het Sondag ’n pad na Gena­dendal versper en toegangsbeheer toege­pas nadat ’n winkeleienaar positief vir die koronavirus getoets het. Volgens brig. Donovan Heilbron, hoof van die polisie in die Overberg, was die versper­ring nie kwaadwillig nie, maar slegs om te verhoed dat motors met Kaapse nom­merplate die dorp binnekom. Heilbron het bevestig dat vier spaza-winkels gesluit is. Hy het ook Maandag saam met Chris Nissen van die menseregtekom­missie na Genadendal gereis om die inwoners se bekommernis oor die gevolge van die koronavirus te bespreek. Genadendal, wat oorspronklik ’n Mora­wiese sendingstasie was, het ’n bevol­king van sowat 5 663 mense.

George Juries, ’n inwoner van die dorp, het Maandagoggend by navraag verduidelik die ingang by Bergstraat is Sondag versper. “Dis aan die onderkant van Genadendal op pad na Voorste­kraal. Die hoofingang is oop.”

Op sosiale media het inwoners hul kommer uitgespreek oor die eerste posi­tiewe geval by Two-a-Day. Die fabriek buite Grabouw is oor die naweek vir dekontaminasie gesluit.

Dimitri Jacobs, ’n menslikehulpbron­direkteur by Two-a-Day sê hulle het Sondagaand bevestiging ontvang van ’n positiewe koronavirus-geval. “Ons het die gesondheidsdepartement, die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes en die arbeidsdepartement on­mid­dellik in kennis gestel. Mense wat noue kontak gehad het met die persoon wat positief getoets is, is geïdentifiseer en die departement van gesondheid sal met hulle in verbinding tree.” Jacobs sê hulle is verlig dat die geval nie in hul pakhuise was nie, “maar net as ’n voor­sorgmaatreël, het ons al ons werkne­mers in kennis gestel om Maandag nie te kom werk nie om die gekontrakteerde span toe te laat om die terrein te ontsmet. Ons sal moontlik Dinsdag weer normale bedrywighede kan hervat sonder enige verlies aan produksie in afwagting van die uitreiking van die skoonmaakbewys van die kontrakteur.”

Jacobs sê al hierdie aksies is in ooreenstemming met die nasionale regulasies en maatskappy-protokolle.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.