Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Ek bly en gaan nêrens heen nie’

Ek bly! Ek gaan nêrens nie!

Te midde van geleenthede om oorsee te gaan werk, verkies ek om eerder in Suid-Afrika te bly – hiér is immers ook geleenthede; ons moet dit net raaksien en aangryp.

Ek kan verstaan waarom sommige mense die land wil verlaat. Met die onlangse reeks xenofobiese aanvalle en geweld teen vroue verstaan ek hoekom ons geliefdes die land uit wil vlug. Maar gaan dit ons probleem met korrupsie, misdaad en geweld oplos?

Ek lees onlangs die boek The 80/20 Principles deur Richard Koch waarin hy voorstel dat 20% van ons aktiwi­teite rede vir 80% van ons resultate gee. Dit is nou vir enigiets wat ons doen, met ander woorde 80% van ons uitslae staan in direkte verhouding tot 20% van wat ons doen – as dit sinvol is.

Dit het my laat dink dat, indien die reël reg is, 20% van ons landsburgers (misdadigers) verantwoordelik is vir 80% van die land se hartseer en verdriet. En dat 80% van ons lands­burgers onder die 20% (misda­digers) se dade ly.

Glo dit of nie, sowat 20% van ons koerant is weekliks slegte nuus en 80% goeie nuus. Dit is egter snaaks dat wanneer mense ons joernaliste ontmoet, die eerste ding wat hulle sê gewoonlik is dat die koerant net oor slegte nuus berig. Dan dink ek – lees ons nie die ander goeie stories (80%) nie, of verkies ons om eerder op die slegte nuus (20%) te fokus?

Prof. Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch het onlangs in ’n gesprek in Montagu gesê ons moet nie vir die regering wag om ons te help nie.

Ons moet die hand in eie boesem steek en vra: “Wat kan ek vir my gemeenskap of samelewing doen?”

Nie alles in ons land is negatief nie. Inteendeel. Suid-Afrika het baie meer positiewe dinge as wat ons dink, soos mense wat werklik vir mekaar omgee.

Dit laat my dink aan ds. Reggie Boesak van Ashton wat onlangs in ’n botsing naby Barrydale betrokke was en vreemdelinge hom gehelp het sonder om vergoeding te verwag.

Ek dink aan my vriendin wie se kar verlede week in Ashton gebreek het toe sy op pad huis toe was en ’n groep mans haar gehelp het.

Sy vertel dat sy nie een oomblik onveilig gevoel het toe Kevin Douries en die manne van Cellcool haar gehelp het nie. Hulle was gaaf en het haar vertroue in die mensdom herstel. Sy het weer begin glo dat daar tog mans is wat vroue nie net wil seermaak nie.

Ek dink aan die baie Suid-Afrikaners wat die hand uitsteek om hul medemens te help en verby ras en kulturele agtergrond kyk – die 80% wat ons land die beste plek maak om in te woon, eerder as om met die 20% bemoei te word.

Ek verkies om saam met die 80% landsburgers te stap en Suid-Afrika ’n beter plek te maak. Ek verkies om eerder oor die goeie nuus (80%) te peins as om die slegte nuus (20%) toe te laat om my te beïnvloed. Ek verkies om saam met die 80% te bly. Ek bly; ek gaan nêrens nie.En jy?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.