Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fliek in dorp verfilm

Wat is ons verantwoorde­likheid teenoor ons medemens?

Dít is die vraag wat die jong skrywer en regisseur Dian Weys in sy nuwe kortfliek, Plaashuis, vra wat pas klaar in Moorrees­burg verfilm is. Geïnspireer deur ware gebeure, handel Plaashuis oor twee vroue wat ’n moord­toneel op ’n plaas gaan skoon­maak.

Dian vertel hy het ’n paar jaar gelede in die boek Plaasmoorde: Slagoffers vertel self geskryf deur Carla van der Spuy gelees oor ’n plaasaanval in Ficksburg in die Vrystaat waar mense in die dorp die plaashuis gaan skoonmaak het sodat die boervrou wat haar man verloor het in die aanval en self nog in die hospitaal was, dit nie hoef te moes doen nie.

“Dit is baie aangrypend dat twee mense bereid is om so iets te doen. Dit het my baie laat dink oor wat is ons verantwoordelik­heid teenoor ons medemens, wat is ek bereid om te doen vir iemand anders, veral nadat hulle seergekry het. En dit is maar grootliks waaroor die kortfliek gaan: Om vir die gehoor te vra wat hulle sou doen as hulle in so ’n situasie geplaas word.”

Hy het in sy navorsing kontak met die boervrou Genene Moll gemaak en haar in Winburg, waar sy deesdae woon, gaan ontmoet.

“Dit is ’n hele rukkie [nadat] dit gebeur het. Ons het daaroor gepraat, maar dit was aangrypend en ontstellend en ek het ’n groot verantwoordelikheid­sin gevoel wanneer ek my eie storie skryf dat hier mense is wat werklik deur hierdie lewenservaring gaan. Ek het probeer om nie iemand anders se lewenservaring te gebruik om vermaak te skep nie.”

Genene het hom in kontak met Hanli gesit, die vrou wat haar huis ná die plaasaanval skoonge­maak het.

“Twee ure later het ek met Hanli in die Wimpy in Ficks­burg gesit en koffie gedrink en ons het ’n uur gesels. Dit is basies waar die grondslag van die kortfliek begin het.”

Wat die draaiboek nog meer aangrypend maak, is dat dit nie professionele mense is wat die huis kom skoonmaak nie, maar twee vriendinne – een het ’n gewone skoonmaakonderneming en die ander een is net ’n vriendin wat sy gevra het om te help. Dit is die eerste keer dat sy hierdie soort toneel skoonmaak.

Nicola Hanekom, Martelize Kolver en Albert Pretorius vertolk die hoofrolle.

Hanekom sê wat vir haar aange­trek het tot die teks was dat dit subtiel tog broos is. “Maar terselfdertyd moker dit jou deur die gesig, so dit is daardie balans tussen iets wat so subtiel kan wees maar tog so sterk en so geweldig baie emosies by ’n mens kan lok.”

Pretorius sê hy het die teks verfrissend gevind. “Die algemene manier om na geweld te kyk, is al soveel keer gedoen dat dit dalk al ’n bietjie trefkrag verloor het, maar die invalshoek van Dian se teks laat die gebeure meer oor aan die kyker wat ’n mens se wind uitslaan. Dis ook interes­sant, want dit dui ook duidelik aan dat geweld ons almal kan beïnvloed. Ons is almal slagoffers as iets met ons medemense gebeur. Dis soos ’n golf wat almal raak. En dan die keuses wat ’n mens maak en hoe mens reageer, is eintlik al waaroor ’n mens beheer het.”

Oor die besluit om die kortfliek in Moorreesburg te skiet, sê Weys hy het aanvanklik gekyk na plaashuise in die Lichtenburg-Noord-Wes-omgewing maar met ’n beperkte begroting het hy besluit om nader vir die regte plaashuis te soek. Sy pa het deur sy werk baie plaasboere in die Swartland leer ken en so het Dian van ’n paar plaashuise te hore gekom. “Die plaas waar ons toe op geskiet het, was die tweede een waarna ek gaan kyk het.” Hy is vol lof vir die inwoners wat hulle gehelp en ondersteun het om die projek moontlik te maak. “Dit is onge­looflik dat mense bereid is om hul medemens te help al gaan dit vir hulle niks in die sak bring nie. Dit sluit eintlik by die tema van die film aan oor wat ons vir mekaar doen en hoe ons mekaar kan help. Dit is ironies dat ons ’n fliek maak oor mense wat ander mense help en dan help die dorp ons.”

Dian sê hulle moes hulle tot finansiering wend. Hoewel hulle probeer het, kon hulle nie deur die gewone finansierings­kanale geld kry nie omdat plaas­moorde, volgens Dian “maar baie polities en sensitief is.”

Hulle het tot op hede sowat R171 500 van hul mikpunt van R208 200 ingesamel, maar sê hulle kort nog geld vir die postpro­duksie. Enigiemand wat dus ’n skenking tot die projek wil maak, kan www.plaashuis-kortfilm.com besoek en op die skakel kliek om ’n aanlyn donasie te maak of vir die bankbesonderhede vir ’n elektroniese oorbetaling.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.