Sondag soos ek van die winkel af terugry huiswaarts, vang iets my oog – iets wat my oë letterlik laat oopgaan het en nuwe insig gegee het.
’n Kartonboks teen palissades wat lees: “Geen besoekers!!! Dankie!!!”, met ’n groot slot en grendel wat die tuinhekkie gesluit hou. So, dink ek by myself, “is dit nie iets wat ons almal maar moet doen nie? Moet ek nie maar my tuinhekkie ook gesluit hou nie?”
Soos ek verby hierdie huis ry, onthou ek hoe talle in Desember op sosiale media dieselfde boodskap aan familie en vriende gedeel het. Sommiges sal dink dit is drasties, maar die vrees wat Covid in ons huise genooi het, is veel erger.
Soos ek altyd sê, eerder bang Jan as dooie oom Jan van langsaan. Dit is hoe ons moet begin dink.
Verlede jaar moes ons die grootste deel van die jaar sonder enige sosiale interaksie deurbring (wel, dit ingevolge die wet), maar talle het hulself net nie daaraan gesteur nie en besluit om eerder dié en ander wette uit te daag.
Nou sit ons pas (skaars) deur ons tweede vlaag infeksies en wonder waarom die gevalle klim.
Ek kan nie vir iemand sê om verantwoordelik op te tree nie. Ek kan nie mense dwing om te luister nie, maar ek kan wel die feite stel. Ek kan wel van my kant af probeer om diegene wat ek liefhet te beskerm.
Ons almal hunker na sosiale interaksies. Ons hunker na vryheid en ons soeke na die normaal daag ons elke dag uit, maar al hoe ons dit gaan bereik, is as almal saamwerk en almal hulle kant bring. Dalk moet ons ook net vir ’n ruk weer ons tuinhekkies sluit – net tot ergste verby is.