Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geldinsameling kry doodskoot

Die NG gemeente in Riebeek-Wes se jaarlikse wildemakou-jagtog op ’n diaken van die gemeente se plaas, is eers van die baan.

Volgens die diaken, Rossouw Dippe­naar, sou die jagtog gister (27 Julie) op sy plaas plaasgevind het, maar is daar vroeër die maand besluit om dit eers op ys te sit.

Die gemeente het onlangs op sosiale media onder sterk kritiek van ’n organisasie, wat hulle vir die regte van diere beywer, Skoonheid sonder Wreed­heid, deurgeloop wat die aktiwiteit as onder meer “barbaars” beskryf het.

Dippenaar sê egter dit is nie as gevolg van druk wat deur dié organi­sasie uitgevoer is dat die jagtog gekanselleer is nie, maar weens die inperkingsregulasies te midde die Covid-19-pandemie.

“Ons het wel oproepe by die kerkkantoor gekry dat ons onskuldige diere doodmaak en is later geteister met verdere oproepe en is die lelikste goed toegesnou dat ons wil geld maak,” het Dippenaar aan Gazette gesê.

Hy sê die mense koop wel jagkaartjies om wildemakoue te skiet en die geld word aan die kerk geskenk.

Hy verstaan nie wat die groep se beswaar is nie.

“Jag is wettig in Suid-Afrika en daar is absoluut niks wat ’n Christen keer om te jag nie en alle deelnemers het jaglisensies,” verduidelik hy.

Dippenaar sê dis ’n gesinsdag en pryse word ook deur maatskappye geborg.

Die jagtog sou vanjaar vir die sesde keer plaasvind.

Die wildemakou het ’n voorliefde vir koring en is berug daarvoor dat hulle jaarliks duisende rande se skade aan boere se koringlande aanrig wat oeste benadeel.

Skoonheid sonder Wreedheid beskryf egter die aktiwiteit op sy Facebookblad as “barbaars, walglik, ’n skande en onkerklik”.

Piet Smit, ’n uitgetrede predikant van Malmesbury wat graag as amateur­fotograaf verskillende voëlspesies afneem en navors, sê hoewel hy nie bewus was van die jaggeleentheid nie, sien hy nie ’n probleem daarmee om “onder kontrole onder die wildemakoue te skiet as hulle te veel word nie”.

“Toe ek kind was, het die wilde­makou glad nie hier voorgekom nie. Deesdae kom hulle nogal in groot getalle hier voor. Op die Radyndam het ek al swerms gesien.

“Ek kan glo dat hulle skade aan die boere se graan kan aanrig net soos die kolganse wat in net sulke groot getalle deesdae hier voorkom. Hulle wei bedags op die landerye en slaap snags by damme.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.