Aan die begin van elke nuwe jaar bevind ons onsself voor die spieël om na die skade van die feestyd op ons lyf te kyk.
Ons sal een dag dan vastrap en besluit om al die lekkernye in die huis, of te verslind of weg te gooi en as ’n voorneme ’n gesonder leefstyl te probeer kweek en te handhaaf – ons almal was al daar. Voornemens is niks nuut nie en ons doen dit al vir jare. 2020 was ’n besondere moeilike en anderste jaar – talle het besluit om die tyd by hul huise nuttig te gebruik terwyl ander hulself oorgegee het aan die klein plesiertjies van ’n yskas. Daar is niks fout daarmee nie, maar daar is ook niks fout om nou na gesonder opsies te kyk en te sien dat ’n mens steeds die lekker kan hê, maar op soveel gesonder maniere.
Ons deel graag vandeesweek ’n paar gesonde resepte wat jou mond steeds sal laat water.
GESONDE KAASKOEK
BESTANDDELE
BASIS
250ml amandelmeel
100ml klapper
60ml botter, gesmelt
VULSEL
500ml natuurlike volroom jogurt
250 ml maaskaas
100 ml Xylitol
60 ml suurlemoensap
2 eiers
20 ml gelatien
METODE
Voorverhit die oond tot 180 °C.
BASIS: Meng al die bestanddele saam en druk plat in ’n tertbord.
Gebruik ’n mediumgrootte glas- of Pyrex- bak. As die bak te groot is, is die koek te plat en krummelrig.
VULSEL: Smelt die gelatien in ’n koppie met 20 ml lou warm water. Meng al die bestanddele saam in ’n voedselverwerker.
Gooi die vulsel stadig oor die kors en bak vir 20 minute.
Skakel die oond af en laat die kaaskoek in die oond afkoel met die deur van die oond effens oop. Verwyder uit die oond en plaas in die yskas vir nog 2 ure.
Geniet!
SORGVRYE HERDERSPASTEI
BESTANDDELE
1 ui, opgesny
1 groen rissie, opgesny
1 pakkie sampioene
1 blikkie tamatiepaste
speserye na smaak
500 g maalvleis (maer maalvleis)
BLOMKOOL-BOLAAG
200 g blomkool
1 klein bietjie room of botter
1 koppie gerasperde cheddar kaas (lae vet kaas)
METODE
Voorverhit die oond tot 220 °C.
Kap die sampioene en groen rissie op.
Braai die ui in botter. Voeg die groen rissie by. Wanneer sag is, gooi maalvleis by en braai. Voeg speserye (chili, masala, peper ens.) by na smaak. Braai vir 5 minute. Voeg die tamatiepaste by en kook vir 10 minute. Voeg laastens die sampioene by en roer totdat sampioene sag is.
BLOMKOOL-MASH: Sny die blomkool op en mikrogolf vir 5-6 minute. Voeg botter by en mikrogolf vir nog 2 minute. Maak fyn met ’n voedselverwerker en voeg ’n dompel room by.
Gooi die maalvleis in ’n glasbak, gooi die blomkool-mash bo-op. Gooi die kaas bo-oor en rooster tot die kaas gesmelt het en begin verbruin.
LAEVET-SEMEL-EN-PEKANNEUT-
MUFFINS
BESTANDDELE
2 ekstra groot eiers
1 koppie sagte bruinsuiker (of Xilitol)
4 eetlepels klapperolie
1 koppie hawersemels
1,5 koppies gesifte koekmeel (of amandelmeel)
2 koppies semels
2,5 ml sout
3 teelepel koeksoda
1 teelepel fyn kaneel of fyn gemmer
1 groot appel, gerasper
2 koppies vetvrye melk
1 teelepel vanieljegeursel
1 koppie pekanneute, grof gekap
METODE
Klits die eiers, suiker en olie in ’n groot bak.
Voeg al die droë bestanddele en gerasperde appel bo-op die eier en suiker mengsel.
Voeg die melk en vanielje by en roer tot goed gemeng.
Laastens, meng die pekanneute in, indien jy dit binne 24 uur gaan bak. (Anders voeg die neute eers by en roer dit net voordat jy dit bak.)
Laat oornag in die yskas of vir ten minste 2 uur.
Wanneer gereed om te bak, voorverhit die oond tot 180 °C. Roer die beslag (voeg die neute by) en skep in liggies gesmeerde muffinpanne, vul elke muffin holte 3/4 vol.
Bak vir 15 minute.
Haal uit die oond en laat afkoel op ’n draadrak.
Kan muffins bêre in die yskas vir tot 3 dae.