Die SA gilde van geskiedenis in Robertson vier dié maand sy derde bestaansjaar.
“Die gilde fokus op Suid-Afrikaanse geskiedenis asook die geskiedenis van Robertson en omgewing. Die ledetal staan tans op 14 en lede is amateur-historici en mense wat ’n passie vir die land en dorp se geskiedenis het,” sê Rudi Oosthuizen, voorsitter van die gilde.
Byeenkomste vind maandeliks in die anneks by die Robertson-museum plaas en die datums van toekomstige byeenkomste kan op die webblad van die gilde by www.saggrobertson.co.za gesien word.
“By die maandelikse byeenkomste word ’n geskiedkundige onderwerp deur ’n lid vir bespreking aangebied. Geskiedkundige boeke – nuut of oud – word ook aan lede bekendgestel. ’n Brokkie geskiedenis van Robertson of uit die omgewing kry elke keer spesiale vermelding. Al hierdie besprekings en feite word dan op die webblad van die gilde geplaas,” voeg hy by.
Robertson was sowat ’n eeu gelede bekend vir sy plaaslike wamakersbedryf.
“Daar is egter baie min feite oor hierdie belangrike fase in die dorp se geskiedenis opgeteken. Die gilde wil poog om meer inligting te bekom en dít alles neer te pen vir bewaring vir die nageslag by die plaaslike museum.”
Die gilde wil dus enigeen wat kennis dra van die wamakersbedryf van vervloë dae in Robertson nooi om hulle dringend per e-pos by info@saggrobertson.co.za te skakel sodat ’n ontmoeting gereël kan word. Enige hulp in hierdie verband sal baie waardeer word.
“Foto’s is altyd baie welkom en ’n groot aanwins. Ons durf nie toelaat dat hierdie stukkie geskiedenis van ons dorp net verlore gaan nie.
“ ’n Volgende projek sal wees om die geskiedenis van soveel moontlik van die ou families van Robertson op te teken en ook op die webblad te plaas. Die mense wat help bou het aan die dorp, die landbou en ander bedrywe van die dorp en omgewing moet vir die nageslag onthou en bewaar word. Indien lede van die publiek voorstelle in hierdie verband wil indien, is hulle welkom om ons te skakel by info@saggrobertson.co.za,” sê Oosthuizen.