Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Greyton se gewilde mark oop

Greyton se baie gewilde Saterdagmark is reeds voor die inperking en daaropvolgende verbod op markbyeenkomste tydelik gesluit.

Tot groot vreugde van stalletjiehouers en inwoners het dié opelugmark Sater­dag 13 Junie, ná drie maande, weer onder streng voorsorgmaatreëls heropen.

Die hele mark is met ’n plastieklint afgebaken, met slegs een ingang, waar mense se hande eers ontsmet is, en een uitgang. Die gewilde gebied met tafels en bankies waar mense graag gesit en kuier het oor ’n koppie koffie en eet­goed, was ook afgesper om ’n samekoms te verhoed. Die gewilde pannekoeke waarvoor mense in die verlede in lang rye geduldig gestaan en wag het, was ook nie beskikbaar nie. Slegs voorafver­pakte wegneemkos is verkoop. Die Rooi Kruis se baie populêre boekstalletjie was ook nie oop nie, want wie kan dan nou net gou ’n boek koop en weer gaan – boekstalletjies is kuierstalletjies met baie gesels.

Die dra van maskers was verpligtend. Markgangers is aangemoedig om waar moontlik elektronies vir hul aankope te betaal of om die regte bedrag geld gereed te hê om onnodige hantering van geld uit te skakel. “Koop en loop” was die vriendelike, dog treffende boodskap.

Sandra van Wyk wat al sedert 2003 haar tuisgemaakte sepe, noodsaaklike olies en velsorgprodukte by die mark verkoop, sê die mark was beslis baie stiller en baie anders as gewoonlik en met minder stalletjiehouers. “Daar was ’n heeltemal ander atmosfeer. Mense het nie soos in die verlede in groepe gestaan en gesels nie. Dit was vir my ’n heerlike ervaring om met vriende en ander stalletjiehouers wat ek drie maande gelede gesien het ’n vinnige geselsie te hê en op te vang met hulle nuus. Ek dink tog dit was ’n groot sukses.”

Soa Delport-Sauls, Greyton se bekende en geliefde barista, rooster, maal en verpak self haar koffiebone en verkoop wegneemkoffie uit haar toegeruste koffiewa. Delport-Sauls noem dat sy baie opgewonde maar ook onseker en selfs bietjie bang was om ná drie maande weer mark toe te gaan. Sy noem dat mense tog nog huiwerig is om uit te gaan en sy het gewonder of mense sal koffie koop. “Maar jinne, Saterdag se markie was fabulous. Ek was so bly om so baie van my gereelde kliënte weer te sien, want ek het hulle wraggies gemis. Ek het 100 weggooikop­pies saamgeneem en 86 koppies koffie verkoop. Ek is bly die eerste mark is verby, want van nou af kan dit net elke week beter word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.