Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Haar talent is ’n fortuin werd

’n Talentvolle gevangene van Malmesbury, wat haar straf tans by Pollsmoor uitdien, was die naweek op die verhoog te sien om die siening rakende misdadigers te verander en te wys dat almal ’n tweede kans verdien.

Karen Fortuin (40), een van sewe mans en agt vroue wat tans in die land se mees berugte gevangenis opgesluit is, het vir twee dae in die toneelstuk, Mission (I’m) Possible, ’n twee uur lange vertoning, by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (CTICC) opgetree. Hierdie produksie is geskryf deur ’n gevangene en gegrond op die ware lewensverhaal van hierdie gevangene.

Die produksie, ’n eerste projek deur die Tweede Kans-teater in samewerking met die departement van korrektiewe dienste, die Nasionale Instituut insake Misdaadvoorkoming en Rehabilitasie van Oortreders (Nimro) en prof. Veronica Baxter van die Universiteit van Kaapstad (UK), bied vir die afgelope vyf jaar talentvolle gevangenes die geleentheid om hul drome en passies te ondersoek asook die publiek te wys dat hulle meer as hul misdade is.

Fortuin sal 23 Oktober reeds een jaar en vier maande haar straf van vyf jaar vir strafbare manslag uitdien. Sy en die ander deelnemers het die afgelope drie maande saam met die rolspelers en ’n span kundiges wat by die UK werk, aan hul selfvertroue, vaardighede en skryf van gedigte en stories in joernale, in Afrikaans, isiXhosa en Engels gewerk.

“Die geleenthede wat binne (die gevangenis) gegee word, is meer as buite. Hierdie toneelstuk wys mense waaroor ons werklik gaan,” het Fortuin gesê.

“Die proses om die toneelstuk te maak, was terapeuties vir ons almal omdat ons vertroue en wedersydse respek ontwikkel het. Die draaiboek het nie ’n enkele storie of hoofkarakter gehad nie – dit was ’n gesamentlike produksie wat aan almal die geleentheid gegee het om te skyn,” het Baxter bygevoeg.

Volgens Baxter, wat gehelp het om die toneelstuk vir die verhoog aan te pas, is die doel daarvan om kuns te gebruik om maatskaplike geregtigheid te bevorder. “Karen is regtig goed – ’n baie intelligente skrywer en intuïtiewe kunstenaar. Sy was veral briljant in ’n snaakse toneel oor ryloop waarin sy en Thobeka Solomons (36), ook ’n gevangene, gedink het ’n lykswa was ’n limousine! Haar laaste reël in die toneelstuk was: ‘Waar gaan ons vandaan?’

“Ek dink sy verdien ’n geleentheid om verder te ontwikkel wanneer sy terug gaan Malmesbury toe en ek hoop dat haar gemeenskap die ondersteuning sal bied om haar te help om haar doelwit te bereik.

“Ek het die voorreg gehad om haar gesin by ’n opvoering te ontmoet en dit was fantasties om te sien hoe trots hulle op haar is. Ek is bevoorreg om saam met haar te kon werk,” het Batxter gesê.

Lewies Davids, Pollsmoor se kommunikasiebestuurder, sê gevangenes sukkel om werk te kry wanneer hulle vrygelaat word en dat die kunste en vermaak vir sommige ’n uitweg is.

“Die teater- en rolprentbedryf is die enigste beroep wat nie teen ’n kriminele rekord diskrimineer nie, dit vereis net talent. Ek vertel die gevangene gereeld dat as die geleentheid homself vorendag bring, moet hulle hulself bemark. Hulle weet nooit watter geleenthede kan ontstaan nadat hul vrygelaat is nie,” sê hy.

Vanessa Padayachee van Nimro sê hulle wil die projek uitbrei na ander gevangenisse.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.