Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hartseer dag vir Napier-gesin

“Ek het al in baie plakkerskampe gewoon voordat ons jare gelede hierdie HOP-huisie van ons betrek het, maar het nog nooit iets soos hierdie brand, wat alles kom vernietig het, belewe nie. Ons het net die klere wat ons aangehad het, oorgehou,” sê Anton van der Riet.

Donderdag 4 Julie het soos enige ander dag vir die Van der Riet-gesin van Tolbosstraat, Napier, begin. Skuins voor vyfuur die middag het alles eensklaps en sonder enige waarskuwing in ’n nagmerrie ontaard.

Die een oomblik was alles nog rustig; die volgende oomblik het hul huis in ligte laaie gestaan terwyl dik, swart rookwolke die lug in geborrel het.

’n Buurvrou en omstanders het vertel dat die gesinslede laatmiddag nog soos gewoonlik almal buitekant doenig was terwyl die kinders daar rondgespeel het en oor en weer gesels en gekuier is. Sy het verder vertel dat Annie van der Riet een van haar kleinkinders, wat die huis met hulle deel, ingestuur het om die venster van haar slaapkamer te gaan toemaak omdat die wind intussen opgesteek het.

Volgens Anton van der Riet was hy self op die punt om die “jellieblik” buite aan te steek vir ’n vuurtjie.

Die volgende oomblik was daar net rook en vlamme wat so vinnig versprei het, dat dit onmoontlik was om in te gaan om enigiets te probeer red.

Twee brandweerwaens en verskeie ander noodvoertuie was teen 18:00 voluit aan die vuur blus terwyl Annie, ’n asmalyer, deur ’n weldoener na die plaaslike hospitaal geneem is.

“Dit was vir ons almal, maar veral vir haar, ’n geweldige skok,” het Anton Vrydagoggend vertel terwyl hy en ’n paar helpers besig was om tussen die puin orde in die wanorde te probeer skep. “Dit was ook net genade dat niemand beseer is nie want ons het gevrees dat die gasbottel wat in die huis was, kon ontplof. Genadiglik het dit nie gebeur nie.”

’n Projek is in samewerking met die Napier-polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum en die buurtwag op die been gebring. Almal in die dorp en omgewing het reeds begin om hand by te sit om te verseker dat die gesin in nood die nodige kort- sowel as langtermynondersteuning ontvang. • Die Kaap Agulhas-munisipaliteit het ook van sy kant af ondersteuning belowe wat gewoonlik onder hierdie omstandighede aan gesinne verleen word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.