Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Heidehof maak nuwe plan met geldinsamelingsprojek

Instansies soos ouetehuise maak staat op gereelde geldinsamelings­projekte om hul finansies ’n hupstoot te gee.

Wanneer ’n pandemie en die grendel­tyd hierdie geleenthede in die wiele ry, moet daar ander planne ge­maak word. Dit is presies wat Heidehof se tehuis vir bejaardes Woensdag (22 Julie) gedoen het.

Die gewilde jaarlikse aansitete vir 120 gaste, wat na die tehuis se basaar hulle grootste bron van inkomste is, is dié jaar met ’n deurry-ete vervang. Die parkeerruimte van die Caledon-moeder­gemeente het ’n feestelike kermis­atmosfeer gehad met musiek, ballonne, vriendelike werkers en selfs ’n hans­wors. Tussen 16.00 en 19.00 het gaste by een ingang ingery, hulle bestellings is motor toe gebring en hulle het weer by die ander uitgang uitgery.

Rika du Buisson, Heidehof se bestuur­der, sê die deurry-ete het hul stoutste verwagtinge oortref. “Ons het 350 ete­kaartjies verkoop wat baie meer is as ons aansitete. Ons is ongelooflik dank­baar vir die wonderlike ondersteuning van die publiek asook almal wat byge­dra het tot hierdie geleentheid. Ons het skenkings van vleis en groente gekry, kontantdonasies, selfs die drukkoste van die kaartjies was geborg en Wessel Havenga jr. het vir ons gratis musiek verskaf wat bygedra het tot die feestelike atmosfeer. Ons personeel en vrywilligers het hard gewerk om hier­die deurry-ete so ’n groot sukses te maak. Ek dink die mense het ook gehou van die idee dat hulle direk ná werk ’n heerlike bord kookkos kan kry om by die huis te nuttig.”

Soos verwag was die kos uit die boonste rakke. Heerlike skaapboud, hoenderpastei, vars groente, pampoen­tert, geelrys, gebraaide aartappels, vars gebakte brood, roosterkoek en gebakte poeding en vla was op die spyskaart. Al die kos was in kleefplastiek verpak.

Du Buisson het ook ’n baie welkome brokkie nuus met die Gazette gedeel: “Ons beplan om vanaf Augustus weer besoeke by Heidehof toe te laat. Alle besoeke van 20 minute elk sal slegs per afspraak geskied en streng gesondheids­protokol sal toegepas word. Ons het al twee weke voor die inperking in selfafsondering gegaan. So, ek weet dat ons inwoners en hul geliefdes wat mekaar vyf maande laas gesien het, baie dankbaar sal wees vir hierdie kort besoeke.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.