Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Help my ma om te sien’

Baie wil eendag ’n naskoolse kwali­fi­kasie verwerf, maar dié 22-jarige inwoner van Robertson wil net hê haar ma moet weer haar sig terugkry sodat sy kan sien hoe sy haar kwalifikasie ontvang.

Freda Jacobs (22) is al drie jaar lank besig met haar kwalifikasie om ’n professionele sommelier te word en sal eersdaags die geleentheid kry om op die verhoog te stap as sy haar kwalifi­kasie verwerf.

“Ek sal baie graag op seiljagte en privaat skepe as ’n sommelier wil werk, maar wil nog eers bietjie tyd saam met my ma deurbring,” vertel Freda.

Sy is haar ma Ceroni (61) se enigste dogter en vertel hulle is ’n gedugte span, veral ná haar ouers van bed en tafel geskei is.

“Ek was al die jare ’n tuiste­skepper en dit was wonderlik om ’n dogter soos Freda te kon grootmaak. Sy het nog altyd hard gewerk en meer as haar deel gedoen. Ek kon nie glo toe sy sê sy wil my help om weer te kan sien nie,” vertel haar ma aan Gazette.

Ceroni woon al meer as ses dekades in die Langeberg, maar het vir ’n paar jaar saam met haar pa Paarl toe getrek toe hy daar as tronkbewaarder gewerk het. Sy het op 13-jarige ouderdom, tydens ’n speletjie, haar heup gebreek en sukkel al die jare nog met dié besering. Sy is op ’n waglys vir ’n heupvervanging en sal heel moontlik in die ouderdom van 65 dié operasie ontvang.

Die teëspoed het haar verder getref.

“My ma het in die middel van verlede jaar met haar sig begin sukkel – sy is ’n diabeet. Haar sig het binne maande verswak en die dokter het bevestig dit is katarakte. Sy moet geopereer word, maar is ook tans op ’n waglys wat langer as ’n jaar sal neem. Ek kan nie toekyk en sien hoe sy sukkel nie. Ek moes daarom ’n ander plan maak.”

Freda vertel sy werk saam met dr. Stephan van Dijk, ’n oftalmoloog van Worcester, om geld in te samel sodat haar ma gehelp kan word.

“Ek wil net hê my ma moet sien hoe ek op daai verhoog stap. Dit is as gevolg van haar vertroue in my en haar inspraak in my lewe dat ek iets van my lewe kon maak.”

Freda is tans werksaam by die Van Loveren-wynlandgoed en doen tussendeur haar prakties daar. Sy erken dat die operasie duur is en sy dit nie kan bekostig nie.

“As ek kon, sou ek elke sent betaal, maar dit is onmoontlik. Al kan ons geld insamel om net eers een oog te doen, sal dit baie help. Die beraamde koste per oog is tussen R20 000 en R30 000. Dit is waarom ek die geldwerwingswebtuiste, Airfunding, gebruik om die geld direk vir die operasie in te samel.”

Sy het die spesiale blad begin om die geld in te samel, maar benodig nog heelwat onder­steuning.

“Ek kan nie nog jare wag om weer te sien nie. Dit voel of ek op so baie uit mis. Ek loop ook swaar en sien slegs buitelyne. Ek is afhanklik van Freda wat my help. Sy kla glad nie. Ek waardeer haar baie,” sê Ceroni.

Freda en Ceroni woon in Panorama in Robertson en vertel dat benewens die operasie wat haar lewe kan verander, sien sy uit om weer kerk toe te gaan as die inperking verby is.

“Dit sal lekker wees om dan te kan sien en weer met my oë die lewe aan te pak en alles in te neem.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.