Verlede jaar was die hongersnood erg, maar vanjaar gaan dit nog erger wees.
Só sê Philip van Reenen, ’n weldoener van Kuilsrivier wat sedert verlede jaar sorg dat kinders in onder meer Kuilsrivier, Kalkfontein, Eersterivier en Wesbank nie honger gaan slaap nie.
“Die eerste inperking het ons gewys dat hongersnood ’n groot probleem in ons gemeenskap is. Met die koronavirus wat steeds verwoesting saai, gaan ons mense nog lank sukkel om kos op die tafel te sit. Die geveg is nog lank nie gewen nie,” sê Van Reenen. Hy het verlede jaar die behoefte gesien en dadelik aan die werk gespring.
“Ek het eers uit my eie sak kos voorsien, maar kon nie die uitdrukking op kinders se gesigte verduur as ek hulle moes wegwys nie. Die behoefte het my oorweldig en ek kon saans nie slaap nie, want ek het die gesiggies voor my gesien,” sê Van Reenen.
Om op te gee, het nooit deur Van Reenen se kop gegaan nie. “Hoe kon ek opgee? ’n Mens kry net daai gevoel van ‘as ek net my deel doen, dan kan ons wen’.
“Ek het begin rondbel en ondernemings gevra om my te help sodat ek die gemeenskap kan help. ’n Mens besef eintlik daar is baie mense wat wil help, maar net nie weet hoe nie. Hulp het ingestroom en daarvoor is ek dankbaar,” sê Van Reenen.
Van Reenen sê hy beoog om vanjaar sy hulp uit te brei. “Daar is mense in ander gemeenskappe wat ook hulp nodig het en dit gaan net erger word. Ek glo kinders wat honger is gaan ander maniere vind om kos te kry. Bendes bied uitkoms vir hierdie weerlose kinders en ons wil dit voorkom. Ek doen ’n beroep op mense om my te help om hierdie kinders te help,” sê Van Reenen.
Mense wat Van Reenen wil bystaan, kan hom by 074 883 6680 bel.