Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hou maar by reëls

Terwyl die nasie in afwagting wag vir nog ’n aankondiging van president Cyril Ramaphosa rakende die Covid-19-pandemie en die pad vorentoe, het plaaslike munisipaliteite hul noodmaatreëls bekendgestel.

Ramaphosa was veronderstel om Sondagaand (22 Maart) die nasie toe te spreek, maar dit is uitgestel weens samesprekings wat glo tot laataand aangehou het. Hy sou na verwagting gister (Maandag 23 Maart) die nasie toespreek, maar teen druktyd was daar nog geen aanduiding hoe laat dit sou plaasvind nie. Sedert sy aankondiging verlede Sondagaand (15 Maart) rakende streng regulasies wat bewerkstellig is om die verdere verspreiding van die virus te keer, is talle ondernemings genoodsaak om self ook maatreëls daar te stel om blootstelling tot die virus in die kiem te spoor. Ook streng regulasies rakende die handelsure van restaurante wat alkohol bedien, kroeë en nagklubs het verreikende gevolge op dié bedryf (lees meer op bl. 3).

Intussen het die Bergrivier- en Swartland-munisipaliteit hulle aksieplan bekendgestel in terme van noodmaatreëls wat ingestel is in belang van die gemeenskap.

Raadsheer Ray van Rooy, uitvoerende burgemeester van Bergrivier-munisipaliteit sê: “Ons verstaan die ernstige aard van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika. Bergrivier sal alles in sy vermoë doen om die verspreiding van hierdie virus sover moontlik in ons omgewing te versag. Ons het besluit op sekere maatreëls wat onmiddellik ingestel sal word om nie net groot byeenkomste af te stel nie, maar ook om die veiligheid van die publiek en munisipale personeel te verseker”. Maatreëls:

Die volgende maatreëls geld: . Alle munisipale oorde, swembaddens en die Portervilledam is tot verdere kennisgewing gesluit; . Alle sportbyeenkomste en oefensessies is gekanselleer tot 14 April (vir verdere besinning daarna); . Die kampeerplekke by Dwarskersbos en Stywelyne is gesluit tot 14 April (vir verdere besinning daarna). Individuele wooneenhede sal steeds beskikbaar wees vir verhuring; . Alle stadsale, gemeenskapsale en biblioteeksale sal gesluit wees tot 14 April (vir verdere besinning daarna). Geen besprekings word toegelaat nie en geen uitsonderings sal gemaak word nie. Kliënte wat reeds gedurende hierdie periode bespreek het, word egter aangemoedig om hul datums na ’n latere stadium te skuif; . Alle aansoeke ingevolge die Wet op Vergaderings en geleenthede en permitte word afgekeur. Die permitte wat reeds goedgekeur is, is reeds gekanselleer; . Alle openbare vergaderings vir April is gekanselleer, maar ander kommunikasiemetodes (e-pos, webwerf en plaaslike koerante) sal egter gebruik word om met die publiek te kommunikeer en die nodige dokumentasie (voorgestelde GOP-wysigings en die konsepbegroting) te deel. Daar sal steeds ’n periode bestaan vir kommentaar en insette vanaf die publiek; . Die volgende gebeure is gekanselleer: Piquetfees; gekombineerde wyk-byeenkoms van 4 April; Wesgro se film-werksessie; ICA se inter­na­sionale konferensie; behuisings­gemeenskapsvergaderings; opedag met diensverskaffers; en Slammed CBY; . Die datum vir die GOP-forum wat vir 8 Mei geskeduleer was, sal ná 14 April bevestig word; . Higiëne-maatreëls by munisipale geboue is versterk, asook die gereelde skoonmaak en ontsmetting van opper­vlaktes en voorwerpe waarmee lede van die publiek en/of munisipale personeel gereeld in kontak kom; . Alle munisipale personeel wat direk met die publiek werk, sal ekstra higiëne-toerusting ontvang en kontakoppervlaktes sal gereeld deur die dag skoongemaak word; . Bergrivier se munisipale raadsvergaderings sal soos normaal voortgaan; . Restaurante/kroeë/nagklubs is in kennis gestel dat hulle nie byeenkomste van 50 mense of meer kan aanbied nie. Alle plekke wat drank verkoop, moet slegs aan die volgende handelsure voldoen: Maandae tot Saterdae 09:00-18:00 en Sondae/openbare vakansiedae tot 13:00; . Kommunikasie is reeds uitgestuur aan kerke in die nakoming van die beperkings wat op groot byeenkomste geplaas word soos gestipuleer in die Staatskoerant, 18 Maart 2020 no.43107; en . ’n Toegewyde persoon met ’n handreinigingsmiddel sal buite die ingange van die munisipale kantore gestasioneer wees om te verseker dat kliënte hul hande ontsmet voordat hulle binne die gebou kom.

Inwoners word versoek om in plaas van die munisipale kantore te besoek, eerder Bergrivier-munisipaliteit telefonies te kontak by 022 913 6000 of stuur ’n e-pos na bergmun@telkomsa.net.

Besoek ook die “Bergrivier Municipality” Facebookblad om op hoogte te bly van munisipale inligting wat deurgegee word.

Swartland-munisipaliteit

By die Swartland-munisi­paliteit is die volgende maatreëls daargestel en ’n dringende beroep is op inwoners gedoen om alle nie-belangrike kontak te vermy en sosiale distansiëring toe te pas:

Alle munisipale dienste sal voorlopig normaal voortgesit word, maar inwoners word aangemoedig om nie-essensiële besoeke aan enige van die munisipale kantore en fasili­teite te vermy en om eerder van aanlyn, telefoon- en elektroniese dienste gebruik te maak.

Verder is die volgende munisipale fasiliteite in die Swartland gesluit tot verdere kennisgewing:. Gemeenskapsale/stadsale/biblioteeksale; . Thusong-sentrums;. Woonwaparke en kampeerterreine;. Swembaddens;. Sportgeriewe en klubhuise

Alle bestaande besprekings moet hetsy gekanselleer of uitgestel word. Terugbetalings sal gedoen word aan rolspelers wat deur die besluite geraak is.

Die sake-ure van biblioteke bly onveranderd, maar hierdie fasiliteite sal slegs basiese dienste lewer, synde die uitneem en terugbring van leesmateriaal. Die getal persone wat in die biblioteek toegelaat word, sal beheer word.

Begraafplase sal oop bly, alhoewel inwoners aangeraai word om, wanneer besprekings gedoen word, ag te slaan op die getal persone wat by die graf toegelaat word, met inagneming van die wetlike verbod op byeenkomste van meer as 100 persone.

Kliëntedienskantore, bv. kassierpunte, verkeerslisensie- en toetssentrums, asook behuisings-, beplannings- en bouplankantore bly oop tot verdere kennisgewing. Streng voorsorgmaatreëls sal egter getref word om te verseker dat ’n verhoogde vlak van higiëne toegepas word.

Kanselleer

Alle openbare interaksies, wykskomiteevergaderings, sektorale en ander GOP- en begrotingsverwante publiekedeelnamevergaderings is gekanselleer tot verdere kennisgewing, onder meer die vergadering van die SMAF (Swartland Munisipale Adviesforum) wat op 15 April gehou sou word.

Vergaderings van die raad en sy komitees sal voorlopig plaasvind soos geskeduleer, maar lede van die publiek sal nie toegelaat word by hierdie vergaderings nie.

Alle gemeenskapsontwik­kelingsprojekte en vakansie­programme wat deur die direktoraat gemeenskaps­ontwikkeling geskeduleer en aangebied sou word gedurende die skoolvakansie en op openbare vakansiedae, is ook gekanselleer.

Volgens Swartland se uitvoerende burgemeester, Tijmen van Essen, sal geen aansoeke toegestaan word ingevolge die Wet op Byeenkomste nie of die munisipaliteit se verordening insake die hou van geleenthede nie. Geleenthede wat reeds goedgekeur is, word tot verdere kennisgewing gekanselleer.

“Die munisipaliteit kan nie die byeenkoms van groepe by privaat lokale/plekke belet nie, maar inwoners word aangeraai om die voorskrifte en proto­kolle soos afgekondig deur die president, die departement van gesondheid en die Nasionale Instituut vir Kommunikeerbare Siektes (NICD) te volg,” het Van Essen gemaan.

Gedetailleerde inligting rakende Covid-19 is op die munisipaliteit se webtuiste (www.swartland.org.za) beskikbaar.

Vir verdere bystand, skakel die NICD se blitslyn op 0800 029 999 of die Wes-Kaapse regering se blitslyn op 021 928 4102.

Alternatiewelik, stuur ‘Hi’ na 0600 123 456 op WhatsApp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.