Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners maak harte oop

’n Paar maande gelede, danksy ’n vrou se hulpkreet op WhatsApp, is ’n inisiatief van stapel gestuur om boere en boervroue in droogtege­teisterde gebiede in Suid-Afrika by te staan en te ondersteun.

Talle Suid-Afrikaners het hul harte oopgemaak om die boere by te staan en ’n paar plaaslike vroue het besluit om ook in te spring en te help.

Die Boks vir Boervrou-projek het in Oktober vanjaar vlamgevat in ’n poging om skoenbokse of soortgelyke bokse vol te pak met benodigdhede en spesiale artikels vir boervroue wat tans die droogtekrisis in die gesig staar.

Die uitmergelende droogte wat in groot gebiede van die Vrystaat, Noord-Kaap en selfs dele van die Wes-Kaap en Oos-Kaap voorkom, het talle boere met hul hande in die hare gelaat. Weiding is verwoes en diere moes van kant gemaak word.

Neline Bruwer van Robertson help met insamelings van dié bokse in die Langeberg. Sy tree op as tussenganger tussen skenkers en die Vrouelandbou­vereniging in Wellington.

Duisende van hierdie bokse is reeds ingesamel met soortgelyke inisiatiewe oor die land heen en honderde bokse is al van Robertson en omliggende gebiede versend na die VLV in Wellington.

’n Boks word gepak vol artikels vir die vroue en kan selfs goedere vir die boere ook insluit. Dit sluit alles van noodsaaklikhede tot spesiale goed in.

Neline het in Oktober op Facebook geskryf dat sy ’n hartroerende ope brief gelees het van ’n boervrou wat in die Karoo woon en tans deur die droogte geraak word.

Dié brief vertel die storie van ’n gesin se struikelblokke met die droogte en handel oor die rivierstroom wat al vyf jaar nie meer vloei nie. Die onbe­skik­­baarheid van kos en hoe leeg die kombuis en kombuiskaste is – die plek wat eens op ’n tyd die hart van die plaashuis was. Die voer wat op raak, die diere wat sterf en die totale beperktheid van water wat die boer-gesin honger, moeg en raadop los.

Verder skryf die boervrou hoe sy toe ’n “bederfboks” ontvang het en hoe dit haar jaar gemaak het. Sy vertel hoe opgewonde sy was oor ’n pakkie kits-cappuccino en noodsaaklikhede soos sjampoe.

“Nadat ek die brief gelees het, het ek besluit om dieselfde te doen en betrokke te raak. Ons wil hierdie boervroue bietjie hoop gee en bederf in die moeilike tye,” sê Neline.

Die bokse word dan gevul met goed wat die skenkers se sak pas. Artikels word mooi verpak en dan toegedraai in koerantpapier en met ’n lint versier. Talle skryf ook ’n brief en voeg dit by die boks.

Afgeepunte in die omgewing is beskikbaar tot die einde van die maand, maar hulle sal nog skenkings inneem ná die afsnytyd.

Bokse kan afgegee word by Breërivier-besproeiing in Robertson, die kerkkantoor in Bonnievale, Pietersielie-tuisnywerheid in Ashton en die Brandy Hall in Montagu.

Vir nog inligting, bel vir Neline Bruwer by 082 829 8828.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.