Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoners spring ook in en help

Vervolg van bl.1

Hy het in die parkeerterrein van Malmesbury Toyota ingetrek en sy selfoon se videokamera aangesit om die gebeure af te neem. “Ek het eers gedink dit is net so 10 of 15 en skielik was dit net ’n deurmekaarspul. Hulle was oral. Van hulle het in hul onderbroeke rondgehardloop soos hulle van hul broeke [tronkdrag] probeer ontslae raak het.”

Van die geel broeke en ’n sweetpaktop of twee wat vermoedelik langs die pad deur beamptes opgetel is, het Vrydag by die medium B-gevangenis in ’n hoop eenkant gelê.

Toe die skote eers begin klap en die ontsnaptes nader hardloop, het Du Plessis besluit om liefs weg te kom.

In die video kan jy hoor hoe Du Plessis probeer sin maak van wat voor hom afspeel voordat hy begin ry.

Soos hy wegtrek, kan gesien word hoe ’n wit Hyundai-afleweringsvoertuig met ’n Paarl-registrasie voor hom wegtrek voor die video afgaan. Du Plessis sê hy het gesien hoe die voertuig voor hom ook met ’n spoed wegtrek en toe skielik stop.

“Ek het eers gedink dit is lede van die publiek wat van die gevangenes probeer vastrek.” Hy het eers ná die tyd besef die voertuig is gekaap. Die Hyundai-afleweringsvoertuig is kort daarna by die laagwaterbrug naby die Amandelrug-pad gekry waar die voortvlugtiges vermoedelik uitgespring het in ’n poging om verder te voet te vlug. Hulle is egter kort daarna aangekeer.

Volgens Klaas is nog ’n gekaapte voertuig ook op die R300 teruggevind.

Van die gevangenes het ook skuiling op die skoolterrein van Hoërskool Swartland gaan soek.

Die skoolhoof Justus Schoonraad het gesê hy het in sy kantoor administrasie gedoen. “Ek het skote vanuit die rigting van die Malmesbury-medium B-gevangenis gehoor. Ek het vinnig uitgestap tot op die terras voor die skool. Ek het nog skote gehoor en ’n groot aantal mense weg van die gevangenis sien hardloop. Ek het dadelik besef wat aan die gang is en so 10-15 manne in die rigting van die skool sien hardloop. ’n Paar was klaar oor die heining, ander het by die opvullings agter die A-rugbyveld toegang gekry tot die terrein en nog ’n paar was aan die skool se kant van die spruit. Ek het twee onderwysers, wat in hul aftyd koffie op die bankie voor die skool gesit en drink het, beveel om dadelik in te gaan en die seunsingang se deur te sluit. Twee van my grondpersoneel was voor die skool en het dadelik gehard­loop in die rigting van die verbruikers­klas en dit beveilig. Ek het na my kantoor gehardloop en ’n afkondiging gemaak dat alle deure, vensters en ingange gesluit moet word. Die administratiewe personeel in my kantoor het onmiddellik die polisie en die boereverenigings se veiligheid­spanne gebel om te kom help om die skool te beveilig. Binne ’n baie kort tyd is die skool deursoek en beveilig. Altesaam vier van die ontsnapte gevangenes is op die skoolterrein weer aangekeer.

“Dankie aan veral die boerevereniging met hul spoedige reaksie en die proses van beveiliging van die skool,” het hy gesê.

Schoonraad het gesê hulle het ná ongeveer ’n halfuur in die klasse die laaste twee periodes voortgesit.

“Ons kon nie die skool verdaag nie aangesien ’n groot aantal ontsnaptes steeds in die dorp op vrye voet was. Ons het boodskappe na ouers gestuur dat hulle hul kinders per motor moet kom oplaai en die leerders wat skool toe stap gevra dat hulle by die kantoor moet aanmeld sodat ons hulle met die skoolbussie kon huis toe neem. Die skool het omstreeks 14:35 verdaag.”

Hy het gesê die genade wat die skool ontvang het, was groot.

“Wat vir my as skoolhoof uitstaan, is die absolute wonderlike genade wat ons ontvang het, dit kon so anders verloop het tydens ’n pouse of klaswisseling. Tweedens die dissipline van die leerders met die uitvoer van ’n eenvoudige opdrag. Elke onderwyser het saamgewerk, leerders is gekalmeer en seker gemaak die terrein is veilig. Geen leerder of onderwyser is beseer of gedreig in die gebeure Vrydagmiddag nie, weer eens ’n bewys van God se beskermende hand oor elke leerder en onderwyser.”

Schoonraad het gesê hulle sal in die week met die Wes-Kaapse onderwys­departement onderhandel oor maniere hoe om die skole beter te beveilig.

“Dit sluit in ’n beter veiligheids­heining om die skoolgebou.”

Minstens 63 voortvlugtiges is teen Vrydagaand weer suksesvol in hegtenis geneem. Die oorblywende vyf is tussen Vrydagaand en vroeg Sondagoggend opgespoor en in hegtenis geneem. Beamptes van die polisie en korrektiewe dienste tesame met ’n taakspan het die soektog gelei.

’n Helikopter van die Suid-Afrikaanse weermag is ook ingespan om te help soek na die voortvlugtiges.

Klaas asook die polisie het groot dankbaarheid teenoor die gemeenskap van Malmesbury en omliggende dorpe uitgespreek vir hul hulp en samewer­king wat daartoe gelei het dat elkeen van die ontsnaptes weer vasgetrek kon word.

Van die ontsnaptes is so ver as Ravensmead, Porterville, Riebeek, Atlantis, Delft en Saldanhabaai gevind.

“Die gemeenskap het ’n groot bydrae gehad in die inhegtenisneming van die ontsnaptes. Hulle het ons gebel met leidrade, selfs familielede wat ons laat weet het die gevangene het nou by die huis opgedaag.

“Sekerheidsondernemings en gewone burgers het ingespring om die ontsnaptes weer terug agter tralies te kry. Die rol wat die gemeenskap gespeel het, was beduidend. Ek moet die gemeenskap van Malmesbury en omliggende dorpe dus gelukwens. Hulle het ’n standpunt ingeneem dat hulle nie wettelose dade sal duld nie.

“Ons het geweet ons moet almal binne 72 uur terugkry voordat hulle die geleentheid kry om wapens in die hande te kry en dit al moeiliker raak om hulle vas te trek. Almal het dadelik ingespring en ons kon meeste van hulle binne agt uur weer opspoor en in hegtenis neem.”

Die departement het die voorval ten sterkste veroordeel.

’n Ondersoek is na die voorval ingestel.

Ten tye van die ontsnapping was daar altesaam 451 gevangenes in die gevangenis met 20 beamptes aan diens.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.