Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jo-Dolphin baat in grendeltyd

Die Jo-Dolphin-dagsorgsentrum vir gestremde kinders het in die grendel­tyd die struikelblokke in sy pad met vernuf en positiwiteit aangepak.

Die organisasie val onder die departement van maatskaplike ontwikkeling en moes, op instruksie van die departement, sy sentrum vir die eerste drie weke van inperking sluit. Die personeel kon eers op 22 April terugkeer na die sentrum en begin met diepreiniging en die skoonmaak van die sentrum. “Dit was baie moeilik, want ons het nie werk as ons nie oop is om ’n diens te lewer nie. Ons diens is ook vir sommige ouers noodsaaklik vir veilige sorg vir kinders met spesiale behoeftes terwyl hulle moet werk,” verduidelik Estrellita Geldenhuys, sentrumbestuurder.

Die sentrum se leerders kon egter eers op 18 Augustus weer terugkeer. Die vier maande tussenin was ’n ware tentoonstelling van die kreatiwiteit en toegewydheid van Jo-Dolphin se personeel. “Ons personeel het besluit om ons dienste na ons leerders te neem. Vanaf 23 April is maaltye by die sentrum voorberei, asook aktiwiteite met instruksies en materiaal, en na die huise van leerders in Malmesbury geneem. Die aanvanklike daaglikse besoeke is later verander na ’n aktiwiteitsprogram van vyf weke met kospakkies wat weekliks afgelewer is,” vertel Geldenhuys. Verder het die personeel steeds na die sentrum ingekom om te werk aan skeppende maniere om herwinde materiaal te gebruik asook maniere om geld in te samel gedurende die staat van inperking.

Geldenhuys vertel dat hulle graag op die positiewe lesse wou fokus van dié tyd en het ’n lys gemaak van die paar wat hulle beleef het. “Ons as personeel het ’n lys gemaak van die positiewe lesse van Covid-19. Daar was baie, maar ek sonder drie uit: Dankbaarheid teenoor ons Skepper vir Sy bewaring oor ons almal – vir gesondheid, die finansies om salarisse te kon betaal en Jo-Dolphin se deure oop te hou; die waarde van aanraking; en die waarde van dinge wat vanselfsprekend geraak het,” sê sy.

Ten spyte van al die uitdagings was daar wel ’n silwer randjie aan die don­ker wolk. Jo-Dolphin is deur Marinda Engelbrecht, van die Kokkedoor-faam, benoem as ’n alledaagse held wat merkwaardige werk gedurende die koronavirus verrig het. Jo-Dolphin het toe R10 000 ontvang en het die geleent­heid gehad om op Via se program, Die Koevert, te verskyn om meer te vertel oor hul organisasie. Jo-Dolphin kon toe ’n porsie van die geld hou en moes die res daarvan skenk aan ’n inspirerende persoon of organisasie. Die episode is op 24 September uitgesaai. Geldenhuys sê hulle is positief oor die pad voren­toe: “Jo-Dolphin gaan van krag tot krag. Ons bou voort vanwaar ons opgehou het voor grendeltyd”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.