Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jong akteur droom groot

Hy is beter bekend as Quinton in Suidooster, maar agter die skerms is hy sommer net Leighmen Marshall – ’n doodgewone 11-jarige seun wat hou van rugby, speletjies speel en tyd saam met sy maats deurbring.

Dié talentvolle jong akteur speel die aanneemkind van Stefan en Michelle Gerber. Hy vertel hy het sy passie vir toneelspel eers verlede jaar ontdek.

“Ek het rugby gespeel en toe het ’n kind na my toe gekom en gesê juffrou het gesê ons gaan op die TV wees. Ek kyk so vir juffrou en ek vra vir haar ‘juffrou kan ek maar drama doen?’ Sy sê toe ja. Sy gee toe vir my ’n briefie ’n dag voor die tyd en ek leer die teks. Almal het gedink dit is niks ernstig nie. Ek het toe vir die oudisie gegaan en toe vra hulle my om terug te kom,” deel hy opgewonde.

Die oudisie was vir ’n rol in die nuwe verwerking van die fliek Fiela se Kind wat onlangs in teaters gedraai het. Leighmen is gekies vir die rol van Dawid Komoetie jr.

Hiér het die toneelspelgogga gebyt.

Daarna het hy ook rolle losgeslaan in die kykNET se rillerreeks, Spreeus, asook ’n kortfliek Rooilug waarvoor hy benoem is as beste akteur in ’n kortfliek by die Silwerskermfees. Dit is ook deur hierdie rol wat hy genooi is om ’n oudisie vir Suidooster af te lê. “En toe byt die Suidooster-gogga,” spot hy.

Hy het in Augustus vanjaar begin verfilm aan sy rol as Quinton.

Hy sê sy onderwysers is baie ondersteunend en help hom om by te bly met sy huiswerk. Hulle gee hom ook tyd af indien nodig om aan die reeks te gaan skiet, maar die produksiespan by Suidooster is ook baie tegemoetkomend teenoor sy skoolverpligtinge en stel dikwels sy opname vir laatmiddag sodat hy steeds die volle skooldag kan bywoon.

Hy het vinnig gewildheid verwerf vir sy oortuigende spel as Quinton, en sê hy geniet die rol, veral die aksie­tonele. Hy sê dit is ’n voorreg om saam met Gideon Lombard en Greta Pietersen, wat die rolle van sy aan­neemouers vertolk te speel. “Hulle help my baie en laat my baie op my gemak voel. Hulle is ook baie liefdevol.”

Hy geniet dit ook om saam met Dean Smith, nog ’n Malmesbury-talent, op stel te wees. “Ek geniet veral sy jokes.

Leighmen sê sy droomrol sal ’n karatefliek wees waar hy teenoor Charlize Theron speel.

Al word hy bykans by die minuut op straat erken, en woon hy nou meer rooitapytgeleenthede by as die normale gr.5-leerder, sê ousus, Carleigh, ’n leerder aan Hoërskool Swartland, hy is nog steeds dieselfde saggeaarde boetie en behandel sy gesin hom nie anders oor hy nou beroemd is nie. Sy probeer tog waar sy kan om nie saam met hom in die straat te loop nie, want mense keer hom gedurig voor vir foto’s. Tog bly hy sy ma, Jolene en stiefpa Gerdus Peens se trots en skroom hulle nie om hom heen en weer te ry vir wanneer hy tonele moet skiet en iewers moet wees vir oudisies nie.

Leighmen droom daarvan om ná skool steeds sy passie vir drama uit te leef, maar sal ook graag iets anders wil doen. Wat dit is, is hy nog nie heeltemal seker oor nie, maar een ding is seker, dié jong talent is gemaak vir die kollig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.