Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Jong gestremde blink oral uit

Sy was vyf maande swanger toe sy ’n voorskrif vir malariapille ontvang het voor hul gesin sou vertrek vir ’n vakansie in die Krugerwildtuin.

Helena Bester het slegs drie daarvan gedrink, maar die uitwerking daarvan is blywend.

Haar middelste kind, Dirkie (nou 31) is 8 Julie 1987 met breinskade gebore.

“Ek kon ná die geboorte dadelik agterkom iets was fout. Hy het sy mylpale baie later behaal as wat ’n gewone kind sou,” het Helena, wat in Moorreesburg woon, gesê.

Sy het Dirkie op tien laat toets vir fisieke gestremdheid. “Sy spiertonus was so laag dat die toets positief was, maar toe begin hy vyf dae ’n week swem. ’n Jaar later het ek dit weer laat toets, en toe was sy spiertonus normaal.”

Vandag ding Dirkie op Suid-Afrikaanse vlak in swem vir gestremdes deel en is hy ’n ywerige bergfietsryer en langafstandatleet.

Hy het nog nooit dat sy agterstand hom terughou nie.

Hoewel hy in ’n spesiale klas was, was hy in ’n gewone skool. Sy twee broers, kleinboet Marius en ouboet Bertu, het op jong ouderdom met swemlesse begin. Hul swemafrigter het eendag voorgestel dat Dirkie ook vir swemlesse kom en hy het ’n groot liefde daarvoor ontwikkel.

Dirkie het op 11-jarige ouderdom agter sy broers, wat in verskeie sportsoorte op provinsiale vlak uitgeblink het, begin aanhardloop. Kort voor lank het die drie broers saam aan tweekamp-wedlope deelgeneem.

“Ek het toe al lankal fietsgery en hy het agter my begin aanry,” het Helena vertel.

Dit was nie lank voordat die drie seuns saam driekamp begin doen het nie. “Die eerste keer wat Dirkie in die see moes swem, was maar stresvol. Ek het net gebid dat my kind veilig daar moet uitkom.”

Dirkie is op 15-jarige ouderdom uit die skool en het op 16 sy eerste Safari-halfmarathon in ’n tyd van 1 uur 36 minute voltooi. Met die uitsondering van een jaar, het Dirkie sedertdien nog elke jaar aan die halfmarathon deelgeneem en op 1 Mei vanjaar sy 14de halfmarathon in 1 uur 29 minute voltooi.

Hy het op 18-jarige ouderdom die eerste keer aan die WP-swemkampioenskap vir gestremdes deelgeneem. Hy het in dieselfde jaar vir die SA’s gekwalifiseer en sedertdien elke twee jaar op nasionale vlak meegeding. ’n Hoogtepunt was in 2016 toe hy altesaam 14 medaljes opgeraap het. Sy beste swemstyle is bors- en vlinderslag.

Hy oefen tans reeds weer vir volgende jaar se SA-kampioenskap, wat hierdie keer in die Kaap aangebied word.

Buiten die swem en hardloop neem Dirkie ook elke jaar aan die Stellenbosch-fietstoer (voorheen Burger-fietstoer) oor sowat 103 km deel.

Helena neem aan soveel moontlik aktiwiteite saam met Dirkie deel en die twee deel ’n besonderse hegte band.

’n Hoogtepunt in hul week is wanneer hulle Saterdae die sowat 30 km Malmesbury toe ry om aan die weeklikse Parkrun deel te neem. Dirkie is gewoonlik onder die eerste drie. Ná afloop van die oggend se hardloop stop ma en seun gewoonlik by die winkel vir ’n Steri Stumpie.

“Omdat ek so mal is oor sport is dit wonderlik om dit saam met hom te kan doen en te sien hoe hy presteer,” vertel Helena. “Dit is geen moeite om hom rond te ry sodat hy aktief kan bly nie. Hy inspireer my ook en druk my om aan die gang te bly. Ons twee is al soos ’n geoliede masjien; ons doen alles saam.”

Waar hulle kan, neem hulle graag aan bergfietswedrenne en pretlope in die omgewing deel.

Helena se man, die seuns se pa, is dood toe hulle nog in die laerskool was, en sedertdien het sy hulle alleen grootgemaak.

Bertu en Marius het albei aan die Universiteit Stellenbosch studeer en hul grade met lof geslaag. Al twee het vandag suksesvolle beroepe.

Helena sê dit het haar ’n rukkie geneem om te aanvaar dat Dirkie nie dieselfde geleentheid gehad het nie, maar sê sy het lankal daarmee vrede gemaak. “Hy is my lewe en my bestaan en ’n ongelooflike plesier elke liewe dag; hy is ’n inspirasie vir almal wat hom ontmoet.”

Helena sê die geheim tot Dirkie se sukses op sportgebied is ’n baie streng gedissiplineerde roetine daagliks wat eet, slaap en oefening betref. “Dit is die behoud vir ’n gestremde. En natuurlik ’n ma wat hom bewonder en liefhet.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.