Moorreesburg-polisiekantoor het onlangs ’n vriendelike nuwe gesig verwelkom.
Kaptein Deon Jooste (49) is in Desember 2018 as die nuwe sigbare-polisiëringshoof (Vispol) aangestel.
Jooste, ’n boorling van Swellendam het sy polisieloopbaan in Desember 1990 by die Conville-polisiekantoor in George begin, waar hy ook gematrikuleer het.
Hy het aanvanklik ná skool regte by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gaan studeer, maar moes weens persoonlike redes opskop. “Ek het toe aansoek by polisie en bewaarders gedoen en is op dieselfde dag laat weet ek is deur albei aanvaar.” Hy het die polisiediens gekies.
Jooste is in 1991 na die Bishop Lavis-opleidingskollege en in dieselfde jaar na die Suurbraak-polisiekantoor tussen Heidelberg en Swellendam verplaas.
Vandaar af is hy na Barrydale-polisiekantoor waar hy vir twee jaar gewerk het voordat hy na die polisieakademie in Graaff-Reinet is om verder te studeer.
“Ek is toe terug George toe waar ek onder meer skofte, misdaadvoorkoming, toe die ondersoek van misdaad en later in die georganiseerde misdaadondersoekeenheid werksaam was.”
Hy het in 2005 na Malmesbury verhuis om by sy vrou aan te sluit en het die afgelope 13 jaar onderskeidelik as skofbevelvoerder, sektorbevelvoerder en operasionele ondersteuningsbeampte van die sigbare polisiëringseenheid gewerk voordat hy einde verlede jaar bevorder is na hoof van die sigbare polisiëringseenheid by Moorreesburg-polisiekantoor.
Oor sy nuwe pos, sê hy: “Die uitdaging is om die gemeenskap veilig te hou en ’n verskil te maak in andere se lewe.”
Sy visie is om ’n veilige omgewing vir die gemeenskap te skep en veral jeug ’n geleentheid op sukses te gee deur dwelms en ledigheid uit die weg te ruim.
Jooste sê sy eerste fokus sal wees om drank en dwelms van die strate af te kry. Dit wil hy doen deur “dag en nag volgehoue aanslae teen dwelms en onwettige drankhandelaars van stapel te stuur”.
“Eiendom word gesteel, gesinsgeweld vier hoogty in die gemeenskap. Werkloosheid is aan die orde van die dag. Dit is my en almal se plig om te werk aan dié kwessies sodat Moorreesburg ’n veilige omgewing vir almal sal wees.”