Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinders by Jo-Dolphin ’n plesier

In die aanloop tot internasionale dag van persone met gestremdhede wat 3 Desember gevier word, het Swartland Gazette met drie rolspelers gesels wat weet wat dit is om met ’n gestremd­heid saam te leef of daagliks met persone te werk wat daar deur geraak word.

Jo-Dolphin-Swartland, ’n sentrum vir persone met gestremdhede, het amptelik 8 November 2008 sy deure in Malmesbury oopgemaak. Dié dagsorgsentrum bied verskeie aktiwiteite aan waar hulle probeer om vir die kinders, asook die volwassenes, lewensvaardighede te leer wat hulle kan help om ’n vol lewe te geniet.

Estrellita Geldenhuys, hoof van dié dagsorgsentrum, verduidelik dat daar beslis stresvolle tye is, maar sê die volgende oor wat haar gemotiveerd hou:

“Ek het nie kinders nie, maar die eerste dag toe ek hiér aangekom en die kinders na my toe gehardloop het, kon ek nie anders as om vir hulle lief te word nie. Ek sien nie eers meer hulle gestremdhede raak nie. Ek is net onvoorwaardelik lief vir hulle.”

Cari Theron se dogter Michelle is een van die kinders by die Jo-Dolphin- dagsorgsentrum. Cari vertel dat hulle as gesin beslis nodige aanpassings moes gemaak het en dat vaste roetines noodsaaklik is vir kinders met intellektuele gestremdhede. Sy noem ook dat om tyd vir jouself te maak, belangrik is vir goeie balans en motivering.

Cari sien Michelle as ’n seën en sê die volgende oor kinders met gestremdhede: “Dit is spesiale mense en vriende wat saam met jou ’n pad loop en nie almal verstaan dit nie. Maar deur genade en krag word sulke mense op ’n mens se pad geplaas.”

Furlo Theron werk ook by Jo-Dolphin en deel sy eie persoonlike ervaring om met ’n gestremdheid saam te leef. Furlo het 3 Julie 2016 in die eerste helfte van ’n rugbywedstryd sy C-5- en C-6-werwels in sy rug gebreek. Hierdie besering het hom verlam gelaat. Furlo verduidelik dat dit in die begin baie moeilik was en dat hy gewonder het oor waarom só iets met hom moes gebeur, “maar na ’n tydperk in ’n rehabilitasiesentrum het ek besef dat dit baie erger kon gewees het”.

Furlo noem ook dat die grootste uitdaging vir hom was dat hy ’n gedeelte van sy onafhanklikheid moes prysgee. Hy sê dat sy familie, vriende en God vir hom die grootste ondersteuning gegee het.

Volgens Furlo is dit vir hom belangrik dat mense meer ingelig moet word oor gestremdhede. “Mense weet nie hoe om teenoor my op te tree nie. Mense is te versigtig. Daar is ’n verskil tussen simpatie en empatie. Ek is in ’n rolstoel, nie siek nie.”

Hy vertel ook dat die kinders by Jo-Dolphin hom daagliks inspireer. Hy is ook geseën met ’n goeie sin vir humor wat hom positief hou. “My droom is om op die verhoog te verskyn en sit-down comedy te doen – ek kan mos nou nie staan nie,” skerts hy.

Jo Dolphin is ’n organisasie sonder winsbejag en kry slegs finansiering van die nasionale maatskaplike ontwikkelings­fonds. Dus is hulle baie afhanklik van skenkings, maar waardeer enige vorm van bydrae. Hulle is ook as ’n openbare welsynsorganisasie geregistreer wat beteken dat mense wat geld aan die organisasie skenk, belastingvoordele sal kry.

Vir nog inligting oor die organisasie en hoe om te help, skakel hulle by 022 487 1156, of stuur ’n e-pos na Geldenhuys by jodolphinmbury@telkomsa.net.

Besoek ook hul Facebookblad “Jo-Dolphin Swartland APD” vir nog inligting. V In Suid-Afrika word nasionale maand van bewusmaking van regte vir gestremdhede ook van 3 November tot 3 Desember gevier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.