Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinders met FASV kry só nuwe hoop

“Ek kom self uit ’n kinderhuis, dus lê dit my baie na aan die hart om seker te maak dat hierdie kinders versorg is.”

Só sê Eleanor Brook van die Home of Hope-inisiatief by Sun Homes in die Tierfontein-omgewing buite Malmesbury.

Swartland Gazette het ter viering van Vrouemaand met Brook gaan gesels om meer uit te vind oor haar passie vir kinders en die verskil wat sy in haar gemeenskap maak.

Die inisiatief het oorspronklik begin as ’n huis van veiligheid vir kinders wat deur hul ouers verwerp of van hul ouers af weggeneem is.

“Die droom was om ’n vir-ewig-huis vir die kinders te vind, maar dit het nooit ’n werklikheid geword nie. Ons het toe ondersoek begin instel oor hoekom mense die kinders in hul sorg sou neem en dan na ’n tyd weer terugbring en sê dat hulle nie die kinders kan hanteer nie,” verduidelik Eleanor.

Hulle het agtergekom dat die meeste van die kinders se biologiese ma met swangerskap dwelms gebruik of gedrink het. Ander is op ’n vroeë ouderdom mishandel. “Omdat ek ook ’n aangenome seun met FASV (fetale-alkoholspektrum­versteuring) het, het ek gesien dat baie van die gedrag- en ontwikkelingsprobleme ooreenstem met dié van die verlate kinders,” vertel Eleanor.

Volgens die Wes-Kaapse regering se amptelike webwerf het Suid-Afrika die hoogste voorkoms van FASV ter wêreld. In die Weskus-omgewing, waar die meeste voorkom, word 6,42 % van kinders met FASV gebore en daardeur geraak. “Die uitdagings van FASV is 100 % voorkombaar, dog 100 % ongeneeslik,” verduidelik Eleanor.

Home of Hope kry inspirasie uit omgeeplase in Nederland met ’n soortgelyke konsep en het ’n plek op ’n plaas ingerig waar kinders met FASV ná skool kan gaan om hul vaardighede te help bou. “Ons eerste groep het in 2018 begin en die kinders is mal daaroor. Dis ’n veilige omgewing waar jy jouself kan wees, nuwe vaardighede kan leer en goed kan maak – sonder oordeel. Ons fasiliteer hulle net; ons sê nie vir hulle wat om te doen nie. Ons leer hulle strategie en vaardighede wat hulle in hul eie lewe kan toepas en gebruik,” sê Eleanor.

Hul droom is om die idee verder uit te brei en meer interaktiewe take, soos ’n groentetuin en kwekery, te begin waarmee hulle die jong volwassenes kan help om sover as moontlik in hul gemeenskappe te integreer.

“Die meeste van die uitdagings wat hierdie kinders teëkom, is in die gemeenskap self waar mense hulle nie verstaan nie en uitsluit, of waar hulle misbruik word,” sê Eleanor. Om dié rede probeer hulle by Home of Hope ’n omgewing skep waar mense tyd saam met die jong volwassenes kan deurbring om ’n beter verhouding tussen hulle en mense met FASV te bewerkstellig.

“Die grootste motivering vir Home of Hope is om individue met FASV te bemagtig sodat hulle kan werk kry en suksesvol kan voel om ’n toekoms vir hulself met die hulp van die gemeenskap te bou,” sê Eleanor.

Met die oog op Internasionale FASV-dag Maandag 9 September hoop sy die gemeenskap sal vir nou en ook vir die toekoms ’n beter begrip en meer geduld teenoor individue met FASV hê en vertrou dat hierdie inisiatief meer deure vir dié jong volwassenes sal open. . Enigiemand wat wil help, skenkings wil doen of idees het wat hulle vir die jong volwassenes kan aanbied, kan Eleanor by 073 040 9537 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.