Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kindersorg bedank almal wat kinders in omgewing altyd help

Kindersorg (KSA) Robertson het Donderdag 27 September, sy jaarvergadering in die Robertson-gemeenskapsaal gehou.

Pastoor Rosie Jansen van die AGS-sentrum in Robertson het die verrigtinge op ’n gepaste wyse geopen en uit Psalm 136 gelees en almal teenwoordig met die sentrale tema van God se ewigdurende goedertierenheid bemoedig. Sy het die seën van God op KSA-Robertson toegebid.

Gasspreker ds. Malcolm Abrahams van die VGK Robertson-Oos het in sy toespraak ’n insiggewende navorsingsgedrewe praatjie oor die belangrikheid van godsdiens in ’n kind se lewe gelewer.

Abrahams het uitgebrei oor die kind se persepsie van God in sy verskillende ontwikkelings­fases.

“Die kerk speel ook ’n rol in die beskerming van kinders met die insette van die kerk in Sondagskool, katkisasieklasse, christelike jeugvereniging en eredienste in die algemeen.”

Hy het ook die belangrikheid van die rol wat ouers en die gemeenskap in die geestelike ontwikkeling van die kind moet speel beklemtoon.

“Die kind moet gesonde waardes en norme aanleer en ouers moet eintlik daardie geestelike rolmodelle wees vir hul kinders,” het hy bygevoeg.

Die streekbestuurder, Rochelle Magerman, het die vergadering verwittig dat die finansiële state van KSA-Robertson nog nie beskikbaar is nie. Sy het gesê dat ’n oudit gedoen word en dat die departement van maatskaplike dienste ’n nuwe keerdatum vir die inhandiging van die verslag gegee het. Die vergadering het dit eensgesind aanvaar.

Die voorsitter, Ivan Douw, het in sy toespraak ook klem gelê op die samewerking van die ouers en die gemeenskap in geheel om die veiligheid en welstand van kinders te verseker.

“As ouers en gemeenskap het ons ’n plig en verantwoorde­likheid om ons kinders te alle tye te beskerm meer so in die lig van die groeiende vlaag vergrype teen ons kinders soos ontvoerings, mensehandel, verkragtings, ernstige aanrandings en verminkings asook moord,” het hy gesê.

“Ons maatskaplike werkers moet die teiken maatskaplike dienste en ander vereistes nakom soos ooreengekom met die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD.

“Dit vir my ’n riem onder die hart om u te kan meedeel dat ons vakkundige personeel nie teleurgestel het nie. Hulle is passievol en toegewyd in hul dienslewering ten spyte van die min geld wat hul verdien in vergelyking met die groot salarisse van DSD en ander staatsdepartemente se maatskaplike werkers,” het hy bygevoeg.

“Nogmaals baie dankie aan my bestuurspan, die professionele korps, naskoolse fasiliteerder, administratiewe beampte en KSA se streekbestuurder.

My dank gaan ook aan DSD en alle ander donateurs asook vrywilligers en enige persoon wat ’n bydrae tot KSA-Robertson gemaak het – hoe gering ook al – weet die dat dit opreg waardeer word.”

’n Beroep is ook gedoen vir voornemende veiligheid- en pleegouers om by KSA-Robertson te registreer aangesien die organisasie ’n behoefte het aan veiligheid en pleegouers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Boland Gazette Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.